Nuus 14:00
BULLETIN 8 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ekonomie krimp met 0,2-persent in die tweede kwartaal
# Minister Manamela vra jongmense om vroegtydig aansoek te doen by kolleges
# En tennis: Zverev word die enigste man vanjaar om die kwarteindrondes van ál vier Grand Slam-toernooie te bereik
# Suid-Afrika se ekonomie het tussen April en Junie met 0,2-persent gekrimp ná ses agtereenvolgende kwartale van groei. Statistiek Suid-Afrika se jongste bruto binnelandse produksyfers toon die mynbou-, handels- en vervaardigingsektore was die grootste rem op ekonomiese bedrywighede. Mynbou het met drie-persent afgeneem en handel met 1,9-persent. Vervaardiging het die derde opeenvolgende kwartaal gekrimp, met ‘n daling van 1,8-persent. Die vervoer- en kommunikasiesektor het egter met 0,9-persent gegroei, terwyl die bou- en landbousektore ook groei getoon het. Ekonome sê stygende invoere en gedempte beleggings het ekonomiese groei verder benadeel.
Intussen sê Build One South Africa sleutelsektore wat werksgeleenthede skep, ly weens die inkrimping. BOSA se leier, Musi Maimane, sê die regering van nasionale eenheid het ekonomiese groei en bestendigheid beloof, maar ekonomiese agteruitgang lei tot minder werksgeleenthede, minder beleggings en groter druk op huishoudings:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, vra matrieks om voor die sperdatum aansoek te doen by kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding vir die volgende akademiese jaar. Die regering streef om hierdie kolleges as voorkeurkeuse te vestig vir jongmense wat verdere studies, werkgeleenthede of entrepreneurskap oorweeg. Woordvoerder Matshepo Seedat sê hierdie is nie ‘n tweede keuse nie, maar speel ‘n sentrale rol in die vaardigheidsrevolusie:
# Tennis: Die topgekeurde Alexander Zverev is deur na die Amerikaanse Ope se kwarteindronde nadat hy Luciano Darderi van Italië geklop het. Hy is die enigste man wat dié seisoen die kwarteindronde van al vier Grand Slam-toernooie kon haal. Zverev speel nou teen die Nederlander Botic van de Zandschulp, wat die Franse gelukkige verloorder Arthur Gea in vyf-uur-13-minute geklop het – die vierde langste Amerikaanse Ope-wedstryd ooit. Die Belg Alexander Blockx het Francisco Cerundolo van Argentinië geklop om sy eerste Grand Slam-kwarteindronde te haal, en speel teen die Rus Karen Khachanov.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-874-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê die moed van geslagte Suid-Afrikaanse en Namibiese vroue moet lei tot tasbare verbeterings in die lewens van vroue en meisies. Sy was deel van die Nasionale Skool vir Regering se aanlyn ministeriële dialoog. Chikunga sê die twee lande se verweefde geskiedenis bied belangrike lesse vir die huidige geslag. Sy het vroue se ekonomiese bemagtiging, digitale insluiting en leierskap as sleutelfaktore uitgelig om ‘n samelewing te bou wat gereed is vir die toekoms.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….