Nuus 09:00
BULLETIN 24 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu wil hê die voormalige direkteur-generaal van Militêre Veterane moet aanspreeklik gehou word
# Denel skors drie senior bestuurders oor moontlike wangedrag
# En twee Britse mans word van spioenasie vir China aangekla
# Cosatu sê hy is ontsteld oor die regering se aanvaarding van die geskorste direkteur-generaal van Militêre Veterane, Irene Mpolweni, se bedanking. Haar vertrek volg ná ‘n stryd tussen haar en die departement sedert haar skorsing in Maart verlede jaar en sy ‘n tugverhoor moes ondergaan. Dit spruit uit bewerings van onregmatige en verkwistende besteding van meer as 200-miljoen-rand. Matthew Parks van Cosatu sê Mpolweni kan nie net wegstap en nie aanspreeklik gehou word nie:
# Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel het volgens berigte drie senior uitvoerende beamptes voorlopig geskors weens moontlike wangedrag. Dit sluit die waarnemende finansiële hoof, Thandeka Sabela, in. Daily Maverick berig Sabela, Michael Kgobe, wat ook as waarnemende uitvoerende hoof dien, en die hoof van korporatiewe finansies en tesourie, Gawie van Zyl, is vroeër die maand geskors. Dit hou volgens berigte verband met ‘n saak van bedrog en diefstal wat die Demokratiese Republiek die Kongo se ambassade geopen het.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik-projek, JoburgCAN versoek ‘n verlenging tot die einde van hierdie maand vir voorleggings oor die Stad Johannesburg se geïntegreerde ontwikkelingsplan. Dit volg ná klagtes deur gemeenskappe oor ondoeltreffendheid in die openbare deelnameproses, insluitend ongerieflike vergadertye en ‘n gebrek aan beskikbaarheid vir aanbiedings. JoburgCAN se bestuurder, Julia Fish, bepleit ‘n aparte hersiening of verlengde tydsraamwerk vir die hersiening van die Tariewebeleid. Fish doen ‘n beroep op die munisipaliteit om inwoners se kommer aan te spreek deur doeltreffende kommunikasie en reaksietye.
# Twee Britse mans moet Vrydag terugkeer na ‘n Londense hof nadat hulle van spioenasie vir China aangekla is. ‘n Parlementêre navorser, Christopher Cash, en Christopher Berry word beskuldig dat hulle inligting aan ‘n buitelandse staat verskaf het wat nuttig kan wees vir ‘n vyand. BBC News berig Cash was betrokke by die China Research Group wat toegang gehad het tot verskeie Konserwatiewe Parlementslede. Die twee mans is in Maart verlede jaar in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat terwyl die ondersoek teen hulle afgehandel is.
# Laureus-toekennings: Novak Djokovic van Serwië, Simone Biles van Amerika en Jude Bellingham van Engeland is van die sportlui wat toekennings in Madrid, Spanje, ontvang het. Djokovic, wat tennis se Grand Slam 24 maal gewen het, is vir ‘n rekordgetal vyfde keer as Sportman van die Jaar aangewys en die Spaanse sokkerspeler Aitana Bonmatí as Sportvrou van die Jaar. Biles het die toekenning ontvang vir Terugkerende Atleet van die Jaar. Bellingham, middelveldspeler vir Real Madrid, het die Deurbraak van die Jaar-toekenning ontvang en Spanje se vrouesokkerspan is die Wêreldspan van die Jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-402-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-306-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….