Nuus 14:00
BULLETIN 16 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet beëindig sy sekerheidskontrak voortydig weens prestasieprobleme
# Die DA sê Ramaphosa staan uiteindelik op teen Lindiwe Zulu en weier Mchunu se aanstelling
# En, die uitrol van nuwe rybewyskaarte is in die weegskaal
# Transnet Spoorvrag se sekerheidskontrak op sy steenkoollyn is voortydig beëindig weens prestasieprobleme. Die gesamentlike onderneming se kontrak is na slegs sewe maande opgeskort na ‘n toename in veiligheidsvoorvalle. Treinkansellasies het uitvoervolumes beïnvloed, wat vererger is deur twee ontsporings. As ‘n tussentydse oplossing het Transnet Spoorvrag nou ‘n versoek vir voorstelle vir die steenkoollyn gerig, waarvolgens bieërs se nakoming en vuurwapenbevoegdheid getoets sal word. Dis egter steeds onseker of ‘n kontrak van vyf maande haalbaar sal wees.
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa het uiteindelik die geringste standpunt teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, ingeneem deur haar pogings te stuit om voort te gaan met die ontplooiing van een van haar naaste kaders, Linton Mchunu, as waarnemende direkteur-generaal van die departement. Die DA-lid, Bridget Masango, sê dit het ‘n telefoonoproep van die president geverg om Zulu te oortuig om Peter Netshipale tot 4 Julie vanjaar as waarnemende DG aan te stel:
# Die bekendstelling van die nuwe rybewyskaarte is in onsekerheid gehul met die nuwe kaartdrukmasjien uit Frankryk wat nog bevestig moet word. Die masjien kan kaarte binne vyf werksdae vervaardig in vergelyking met die huidige wagtyd van twee weke, en het verbeterde sekerheids-kenmerke om bedrog te bekamp. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, sê die verkrygingsproses is aan die gang, met die nuwe rybewyse wat teen die einde van die maand landwyd bekendgestel moet word:
# Israel het ‘n diplomatieke aanslag op Iran begin en vra sanksies teen die Revolusionêre Wag. Dit volg na Iran se wraakaanval op Israel na ‘n noodlottige aanval op die Iranse konsulaat in Damaskus, Sirië, op 1 April. Die minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, sê die diplomatieke aanslag sal saamval met die Weermag se reaksie op die aanval. Katz het briewe aan 32 lande gestuur en ministers van Buitelandse Sake gevra om sanksies teen Iran se missielprojek in te stel en die Islamitiese Revolusionêre Wag tot ‘n terroriste-organisasie te verklaar.
# Swem: Vyf Suid-Afrikaners het hulle plek verseker op vanjaar se Olimpiese Spele in Parys na die nasionale kampioenskap in Gqeberha in die Oos-Kaap. Die Olimpiese gouemedalje-wenner, Tatjana Smith, voorheen Schoenmaker, het haar plek bespreek saam met die 19-jarige Pieter Coetzé wat vyf goue medaljes op die kampioenskap opgeraap het. Aimee Canny, Kaylene Corbett en Erin Gallagher spog ook met kwalifiserende tye vir die Spele in Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-565-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-369-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….