Nuus 09:00
BULLETIN 12 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Vervoer hou toesig oor die amptelike afskakeling van die Johannesburgse e-tol
# Die NUM is nie verbaas oor Sibanye se jongste afleggingsplanne nie
# En Bryoni Govender sal Suid-Afrika verteenwoordig by Mej. Supranasionaal
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, sê die afskaffing van die e-tolstelsel is ‘n oorwinning vir demokrasie. Sy het gisteraand toesig gehou toe die e-tolstelsel by die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se sentrale bedryfsentrum in Gauteng afgeskakel is. Sy het ook die seinbrûe op die N1-Suid Buccleuch-wisselaar besoek. Groot ontevredenheid heers omdat motoriste steeds hul e-tolskuld moet betaal. Chikunga sê dis buite haar jurisdiksie om oor uitstaande e-tolskuld te beslis:
Die DA in Gauteng vra intussen die nasionale Departement van Vervoer om die proses in werking te stel om alle onbetaalde e-tol-skuld onmiddellik te skrap. Hoewel e-tol permanent afgeskakel is, moet motoriste steeds hul skuld betaal. Fred Nel van die DA sê die provinsiale regering was onsuksesvol met die instelling van e-tol en sal ook nie daarin slaag om die agterstallige skuld van motoriste te verhaal nie:
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers sê hy is nie verbaas oor Sibanye-Stillwater se jongste afleggingsplanne nie omdat dit volgens hom kapitalistiese barbaarsheid op sy beste is. Die mynmaatskappy sê hy moet verliese aanspreek by Beatrix 1-skag wat nie beplande produksie lewer nie, asook die Kloof 2-aanleg. Die voorgestelde herstrukturering van bedrywighede kan moontlik drie-duisend-107 werkers en 915 kontrakteurs raak. NUM sê hy is gereed om deel te neem en Sibanye konstruktief te oorreed om om werksverliese te beperk.
# Sokker: Liverpool het met drie-nul teen Atalanta verloor in die Europa-liga se eerste kwarteindronde in Anfield. Dis die Reds se eerste nederlaag op tuisgrond sedert Februarie verlede jaar en hulle onoorwonne lopie van 33 wedstryde is ook beëindig. Intussen het Ollie Watkins en John McGinn se doele aan Aston Villa ʼn naelskraapse oorwinning oor Lille besorg terwyl West Ham met twee-nul teen Bayer Leverkusen verloor het. Liverpool se bestuurder, Jurgen Klopp, sê hy kan niks positiefs oor die wedstryd sê nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-901-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Die eerste prinses in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, Bryoni Govender, sal die land op 6 Julie in die Mej. Supranasionaal-kompetisie verteenwoordig. Sy het die land ook verlede jaar by Mej. Heelal verteenwoordig nadat Mej. Suid-Afrika, Natasha Joubert, verkies het om nie aan internasionale kompetisies deel te neem nie. Die huidige Mej. Supranasionaal is Sheynnis Palacios van Nicaragua. Govender sê sy het onvermoeid gewerk om haarself geestelik en fisiek vir die kompetisie voor te berei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….