Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die platinum-bedryf verwag nie dat metaalpryse, wat sedert verlede jaar dramaties gedaal het, vanjaar verder gaan terugsak nie. Daar is hoop dat die pryse teen volgende jaar sal begin herstel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig hoewel die e-tolstelsel in Johannesburg vannag afgeskakel word, sê die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga padgebruikers moet volgens wet steeds tolgeld betaal. Daar is nog nie besluit hoe dit ingesamel gaan word nie.
Tweedens skryf die koerant oor die motorongeluk waarin Lizelle Stolz van Tzaneen dood is. Haar man Corné het homself gister uit die hospitaal ontslaan om by hul jongste kind, die ses maande oue Walru te wees.
En laastens word berig die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê die Rooiwal-wateraanleg noord van Pretoria is op koers.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma sal steeds sy presidensiële voordele ontvang al word hy as LP verkies.
En berig ook oor die e-tol-dilemma vir motoriste.
# En Sowetan:
Berig die ANC se tesourier in Mpumalanga, Mandla Msibi wat nou reeds twee jaar geskors is sonder dat hy aangekla is, sê die party se prosesse kan nie aangepas word volgens die wense van ‘n paar magshonger leiers nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die DA sê dis geen verrassing dat Mangaung Metro volgens Good Governance Africa weer die swakste in die land is nie. Dit volg nadat die regering op talle vlakke ingegryp het.
Vervolgens het die koerant nuus oor Kobie die spierwit donkie wat op ‘n plaas buite Bloemfontein gebore is.
En laastens word berig oor georganiseerde misdaadgroepe wat mielies van boere se lande af steel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Social Research Foundation se opname het bevind dat die MK-party baie stemme afrokkel by die ANC. Hulle voorspel die ANC gaan moontlik net 37-persent van die stemme kry.
En tweedens skryf die koerant die hoof van die Mandelabaai Ontwikkelingsagentskap, Anele Qaba gaan appelleer nadat sy aanstelling ter syde gestel is.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Zuma wat sy voordele gaan behou al word hy ‘n parlementslid.
En berig die Spesiale Ondersoekeenheid gaan die mislukte SAL-transaksie ondersoek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook Qaba gaan appelleer.
En skryf die Nelson Mandelabaai-metro gaan ‘n stelsel laat installeer om die grootskaalse kragdiefstal in die stad hok te slaan.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor ‘n vroulike sokkerster wat teen haar vermeende verkragter uitgevaar het.
En berig tweedens die eThekwini-metro gaan die stad se begroting aan die inwoners verduidelik.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n man wat na bewering helder oordag in Windhoek aangerand is, eis nou byna 1,3-miljoen-rand in skadevergoeding van sy aanvaller. Die voorval is in sosiale media gedeel.
Dan skryf die koerant sedert die begin van die jaar is 630 mense by hospitale in Namibië vir malaria behandel, terwyl 15 aan die siekte dood is.
En laastens is daar nuus oor ‘n Namibiese tiener, Tristan Keulder wat van Walvisbaai na na Brasilië geseil het.