Nuus 06:00
BULLETIN 23 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê politieke geskille mag nie munisipale dienste ontwrig nie
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is vir die tweede agtereenvolgende maand laat met die betaling van salarisse
# En krieket: Temba Bavuma is trots op die Proteas
# President Cyril Ramaphosa sê politieke geskille en onbestendigheid moet nie noodsaaklike munisipale dienste ontwrig nie. Ramaphosa het in sy toespraak by die bekendstelling van die hersiene witskrif oor plaaslike regering by die Birchwood-hotel in Boksburg gesê munisipaliteite moet voortgaan om betroubare water, elektrisiteit en ander basiese dienste te verskaf, ongeag politieke verskille. Hy het gewaarsku inwoners moet nie as gyselaar gehou word deur politieke onbestendigheid nie:
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne verwelkom ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg wat fondse beskerm vir die rehabilitasie van myne en die herstel van die omgewing. Die departement sê die uitspraak versterk die beginsel dat die fondse vir die beoogde doel aangewend word en beskerm word teen mededingende kommersiële belange. Hy sê mynmaatskappye moet verantwoordelikheid aanvaar vir die omgewingsimpak van hul bedrywighede, om te verseker die staat en belastingbetalers dra nie die koste van omgewingskade nie.
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy vorm deel van ‘n uitdagende en wisselvallige lugvaartomgewing, waar geopolitieke ontwikkeling bydra tot hoër bedryfskoste, veral wat brandstof betref. Dit kom te midde van berigte dat die staatslugredery sy personeel ingelig het dat hul salarisse vir Oktober, vir die tweede agtereenvolgende maand, laat betaal sal word. SAL-woordvoerder Mphilo Dlamini het aan TimesLive gesê die bestuur het breedvoerig met werknemers oor die kwessie geskakel. Daar is verduidelik dat die maatreëls wat getref word, daarop gemik is om die volhoubaarheid van die onderneming en sy vermoë om voortaan sake te doen, te verseker.
# Die Openbare Beskermer het ‘n ondersoek na die Stad Tshwane van stapel gestuur oor die waterkrisis in Bronkhorstspruit, nadat 408 mense siek geword het. Die ondersoek volg op klagtes van die EFF en die Vryheidsfront Plus, wat beweer die stad het versuim om tussen 24 September en 14 Oktober chloor by die water te voeg, en inwoners nie gewaarsku het dat dit dalk onveilig is om te drink nie. Die woordvoerder, Oupa Segalwe sê die watersuiweringsaanleg is tydelik buite werking gestel vir skoonmaak en ontsmetting:
# Maatskappye en regerings wêreldwyd skarrel om kritieke sekuriteitsfoute in PHP, ‘n programmeertaal wat gebruik word om webwerwe te bestuur, reg te stel. Die kuberveiligheidsfirma Cloudflare sê daar was miljoene pogings om die kwesbaarhede uit te buit sedert besonderhede bekend gemaak is. Die foute kan aanvallers toelaat om kwaadwillige kode op kwesbare bedieners te laai. Verskeie lande het webwerwe tydelik vanlyn geneem terwyl hulle sekuriteitsmaatreëls toegepas het. In Suid-Afrika is meer as nege-duisend-800 internetgekoppelde bedieners gevind wat PHP gebruik, maar tot dusver was daar nog nie enige bevestiging van kuberinbrake op regeringsvlak nie.
# Krieket: Die Protea-kaptein Temba Bavuma sê hy is trots op hoe die span saamgestaan het om die tweede toets teen Australië in Gqeberha, wat deur reën beïnvloed is, te wen. Suid-Afrika het met ‘n beurt en 31 lopies gewen, wat beteken die reeks sal volgende week in Kaapstad beslis word. Uitstaande vertonings het Bavuma se loopbaanbeste 179 ingesluit, asook die bydraes van snelboulers Kagiso Rabada en Marco Jansen, wat gesamentlik 12 paaltjies geneem het. Bavuma sê indrukwekkende individuele vertonings maak sy taak as kaptein baie makliker:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-265-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-31-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 113-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….