Goeie Nuus
BULLETIN 4 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê toerisme in die provinsie groei toenemend en vinniger. Die getal besoekers wat die eerste twee maande vanjaar op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland het, het die 200-duisend-kerf verbygesteek en is die meeste in vyf jaar. Wenger sê besoekersgetalle by die belangrikste toeriste-aantreklikhede regoor die provinsie is 20-persent hoër as in Januarie en Februarie verlede jaar:
Steeds in die Moederstad: BeachAtlas het Boulders-strand as die tweede beste strand ter wêreld aangewys. Die Londense maatskappy het insette van 42 kundiges oorweeg om sy Golden Beach-toekenning 2024 te skep. Die kriteria het ingesluit klassieke skoonheid, inklusiwiteit en kulturele belang. Boulders het verlede jaar die wêreld-lys van die 50 beste strande gehaal. Bora Bora, in Frans-Polinesië, het die eerste plek behaal terwyl Namibië se Skedelkus negende is.
# Noordwes se waarnemende premier, Dunile Nono Maloyi, sê die nuwe toonaangewende Laerskool Saruchera in Huhudi, Vryburg, sal vir honderde kinders lewensveranderend wees. Die bouwerk het in 2020 begin met ‘n belegging van meer as 80-miljoen rand. Die departement se woordvoerder, Mphata Molokwane, sê die skool het 24 moderne klaskamers, administratiewe kantore, ‘n biblioteek, sokkerveld en ‘n veeldoelige saal:
# Twee Johannesburgse bibliotekarisse, Lindani Sikhakhane en Lindo Dlamini, het die 2023-24 Slimstad-innoveringsuitdaging gewen met ‘n idee vir ‘n biblioteek-toepassing. Dit kan biblioteke se taak vergemaklik om instrumente vir inligting- en kommunikasietegnologie te deel en skootrekenaars en tablette na te spoor wat in verskillende programme gebruik word. Die biblioteekafdeling wil die twee help om die toepassing in samewerking met die Tshimologong-innoveringsentrum van die Universiteit van die Witwatersrand te ontwikkel indien fondse beskikbaar is. Die toepassing sal na verwagting biblioteek-hulpbronbestuur hervorm.
# En, die amptelike keuringsdirekteur van die Cannes-filmfees, Thierry Fremaux, sê hulle verwag om vanjaar die tweeduisend-kerf verby te steek met rolprente wat vir keuring ingedien word. Spanning bou reeds op vir vanjaar se fees, met Furiosa: A Mad Max Saga wat reeds bevestig is as première op die fees en Quentin Dupieux se A Second Act, met Léa Seydoux in die hoofrol, wat die openingsaand-rolprent sal wees. Fremaux sê vanjaar se fees sal deur die Amerikaanse rolprentvervaardiger, Greta Gerwig, gelei word, wat die regie behartig het van die loket-treffer, Barbie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….