Nuus 14:00
BULLETIN 26 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Federasie sê Dinsdag se betogings is nie beskermd nie
# African Bank toon ‘n verlies namate oninbare skuld styg
# En sokker: Williams sê Broos verdien ‘n standbeeld na Bafana se geskiedkundige kwalifisering in die Wêreldbeker
# Die Suid-Afrikaanse Federasie vir Staal- en Ingenieursbedrywe sê March-and-March se beplande nasionale staking Dinsdag word nie beskerm deur die Wet op Arbeidsverhoudinge nie. Die federasie sê werknemers wat deelneem kan gevolge verwag, insluitend dissiplinêre optrede en die beginsel van geen werk, geen betaling. Arbeidsfederasies versoek werkers om werk toe te gaan. Werkgewers word aangeraai om voor te berei vir moontlike ontwrigting, vervoeruitdagings en veiligheidsrisiko’s tydens die beplande optrede.
Intussen sê die Departement van Binnelandse Sake die meeste buitelandse burgers wat onwettig in Suid-Afrika woon, het die land wettig binnegekom en nie deur swakbeheerde grense nie. Hoofdirekteur Sihle Mthiyane sê die meerderheid het wettig deur amptelike grensposte aangekom, maar aangebly nadat hul visums of permitte verval het. Hy sê die departement gaan voort om toesigstelsels en handhawingsmaatreëls te versterk om onwettige immigrasie aan te pak en nakoming te verbeter:
# ‘n Forensiese ondersoek beveel aan Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, moet tugstappe instel teen die geskorste finansiële hoof, Gareth Mnisi. Die verslag beweer Mnisi het die munisipale gedragskode oortree deur nie direkteurskappe te verklaar en nie sy verhouding met die bou-onderneming Ngaphesheya bekend te maak tydens twee tenderprosesse nie. Tugstappe word ook aanbeveel teen die geskorste adjunkkommissaris van die Tshwane Metropolisiedepartement, Umashi Dlamini, vir die beweerde oortreding van vertroulikheid deur ‘n faktuur van Gubi 585 Solutions met die geskorste polisie-sersant Fannie Nkosi te deel.
# African Bank het ‘n netto-verlies ná belasting van 624-miljoen-rand gely vir die ses maande tot 31 Maart, met stygende oninbare skuld wat swaar geweeg het op verdienste. Kredietverliese het gestyg tot 1,8-miljard-rand vanaf 1,2-miljard-rand in die vorige tydperk. Die tussentydse uitvoerende hoof, Zweli Manyathi, sê die uitslae weerspieël ‘n moeilike bedryfsomgewing. Hy sê die bank het sy kredietrisiko-strategie verskerp nadat wanbetalings hoër as verwag was, en het ‘n nuwe beoordelingsmodel ingestel en leningsvlakke aansienlik verminder.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein en doelwagter, Ronwen Williams, sê afrigter Hugo Broos verdien ‘n standbeeld nadat hy Suid-Afrika die heel eerste keer na die Wêreldbekertoernooi se uitspeelronde gelei het. Suid-Afrika is tweede in Groep A en speel teen die mede-gasheer, Kanada, in die ronde van 32. Williams sê Broos het in die span geglo:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-703-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-52-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….