Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 April 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae: …
# Ons begin met tennis: Jannik Sinner kan Novak Djokovic van Serwië onttroon as wêreld nommer een indien hy sy goeie spelpeil in die kleibaanseisoen volhou. Die Italianer het die Spanjaard Carlos Alcaraz in die tweede plek vervang nadat hy die Miami Ope gewen het. Grigor Dimitrov van Bulgarye, wat in die eindstryd teen Sinner verloor het, het drie plekke opgeskuif tot negende. Daniil Medvedev van Rusland is steeds vierde, gevolg deur die Duitser Alexander Zverev, die Rus Andrey Rublev, Holger Rune van Denemarke en Casper Ruud van Noorweë. Hubert Hurkacz van Pole is tiende.
Nog tennis: Die Amerikaanse kwalifiseerder Katie Volynets het die langste vrouewedstryd vanjaar in die eerste ronde van die Charlestonse Ope gewen. Die 22-jarige het Arantxa Rus van Nederland in drie uur en 43 minute 6-2, 6-7, 7-6 oorrompel. Caroline Wozniacki van Denemarke het McCartney Kessler van Amerika met 6-stroop, 6-1 uitgestof. Die Amerikaner Amanda Anisimova het die eerste keer sedert die Australiese Ope gespeel en Alize Cornet van Frankryk 6-3, 6-stroop geklop. Anisimova sê sy is bly om weer op die speellys te wees:
# Motorsport: Die Formule Een-eienaar, Liberty Media het ingestem om die motorfietsreeks MotoGP te koop in ‘n transaksie wat sowat 68-miljard-rand beloop. Die Amerikaanse maatskappy sal ‘n belang van ongeveer 86-persent verkry van die Spaanse eienaars, Dorna Sports, wat MotoGP sedert 1992 besit. Die transaksie sal na verwagting teen die einde van vanjaar afgehandel wees, onderhewig aan die goedkeuring van regsowerhede. Liberty Media se president en uitvoerende hoof, Greg Maffei, sê hulle beoog om MotoGP verder te ontwikkel.
# En laastens, sokker: Adidas het aanhangers verbied om die Duitse nasionale trui te koop wat met die nommer 44 vervaardig is weens kommer dat dit soos die Nazi’s se SS-simbool lyk. Die SS-beskermingspan was aanspreeklik vir talle misdade teen die mensdom onder Adolf Hitler se regime. Adidas het ontken die nommer se ooreenkoms met die Nazi-simbole was opsetlik, en sê hulle is daartoe verbind om xenofobie, anti-Semitisme, geweld en haat teen te staan. Die nuwe truie is verlede maand bekendgestel voor die Europese kampioenskap in Duitsland, wat op 14 Junie afskop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….