Nuus 13:00
BULLETIN 31 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aartsbiskop Makgoba sê kiesers staan voor die belangrikste besluit dié jaar
# Beurtkrag steeds opgehef
# En, tennis: Danielle Collins sluit haar loopbaan op hoë noot af
# Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad en president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, Thabo Makgoba, sê kiesers staan voor die belangrikste besluit wat hulle dié jaar gaan neem. Makgoba het by die Paasdiens in die St Georges-katedraal gepraat. Hy beklemtoon die verkiesing in Mei is nie slegs die kies van ‘n party nie. Die verkiesing is ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om vir of teen voortgesette korrupsie te besluit; vir of teen gelykheid; en vir of teen wanadministrasie:
# Eskom sê volgehoue beskikbare opwekkingsvermoë, voldoende noodreserwes en ‘n verwagte laer aanvraag aan die begin van die week wat voorlê, maak dit moontlik vir die opheffing van beurtkrag tot verdere kennisgewing. Eskom sal Woensdag ‘n stelsel-opdatering gee of enige betekenisvolle veranderinge kommunikeer sou dit gebeur.
# ActionSA in Gauteng sê hy dink die ANC-regering se besluit om dié week se brandstofstygings slegs ure na die skrapping van e-tol aan te kondig, is twyfelagtig. Die party se premier-kandidaat, Funzi Ngobeni, sê dit lyk asof Gauteng se motoriste steeds die las moet dra. Hy bevraagteken weer hoekom e-tolskuld in ‘n provinsiale kwessie omskep is terwyl Sanral in die eerste plek veronderstel is om aanspreeklik gehou te word vir die oprigting van tolhekke:
# Tennis: Die Amerikaner Danielle Collins was een te veel vir die vierde gekeurde Russies-gebore Kazakstani Elena Rybakina en het die eindstryd van die Miami-Ope met 7-5, 6-gewen. Sy het die titel in haar geboorteland in die laaste seisoen voor haar uittrede ingepalm. Collins het dit voor ‘n waarderende skare reggekry met André Agassi en Martina Navratilova onder die toeskouers. Sy het drie van haar sewe breekpunte gewen in ‘n wedstryd van net meer as twee uur. In vandag se mans-eindstryd gaan die Bulgaar Grigor Dimitrov probeer om ‘n einde te maak aan die Italianer Jannik Sinner se segetog.
# En laastens: Die Grammy-wenner Tyla is gisteraand met die Beste Internasionale Vertoning-toekening by die eerste Kulturele en Kreatiewe Industrie-toekennings by die Sandton Konvensiesentrum vereer. Sy het Suid-Afrikaners vir hulle ondersteuning bedank en sê die land is oral in die wêreld geliefd. Die gewilde jong sangeres het gister op die OR Tambo-Internasionale Lughawe geland na haar Grammy-triomf en ‘n helde-ontvangs gekry. Tyla se enkelsnit Water was in talle lande in die top tien trefferlyste, insluitend Amerika en die VK.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….