Nuus 16:00
BULLETIN 27 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rentekoerse bly onveranderd
# Kommentaar word gevra oor die benoemdes vir hoofregter en die adjunkpresident van die Appèlhof
# En, rugby: Skotland se Suid-Afrikaans-gebore stut tree uit op 37
# Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers onveranderd te hou op 8,25-persent. Dit beteken die prima-uitleenkoers bly 11,75-persent.
# Die Regterlike Dienskommissie het kommentaar uitgenooi oor die benoemdes vir die posisies van hoofregter en adjunkpresident van die Appèlhof. President Cyril Ramaphosa oorweeg dit om adjunk-hoofregter Mandisa Maya as hoofregter aan te stel, en regter Dhaya Haroon Zondi as adjunkpresident van die Appèlhof. Kommentaar oor hul geskiktheid of toepaslike inligting moet teen 2 Mei ingedien word. Onderhoude sal oop wees vir die publiek nadat die kommentaar nagegaan is.
# Die vakbondfederasie Saftu vra die nasionalisering van Educor-instellings, wat City Varsity, Lyceum, Damelin en ICESA City Campus-kolleges insluit, en wys op wydverspreide oortredings van werkersregte. Dit volg na ‘n ondersoek deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding oor Educor se oortredings, soos vertragings met geouditeerde finansiële voorleggings en arbeids-uitbuiting. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê onderwysvermoë sal verbeter indien die kolleges by die openbare sektor ingeskakel word. Hy vra die regering om die werkers en studente by openbare instellings op te neem:
# Die DA kritiseer die Enoch Mgijima-munisipaliteit in die Oos-Kaap vir die heraanwending van drie sale met 30 beddens elk in die Komani-psigiatriese hospitaal vir kantoorruimte weens ‘n gebrek aan munisipale kantore. Die party se woordvoerder oor Gesondheid in die Oos-Kaap, Jane Cowley, sê 150 pasiënte is sonder behoorlike sorg gelaat. Sy vra dringende optrede om die ernstige gevolge teen te werk van ruimtebeperkings by die hospitaal:
# Rugby: Skotland se veteraan Suid-Afrikaans-gebore stut ,WP Nel, het aangekondig hy tree die einde van die seisoen uit. Die 37-jarige Nel het 61 toetse vir sy aangenome land gespeel, en Edinburgh in 200 wedstryde verteenwoordig sedert hy in 2012 van die Cheetahs af by hulle aangesluit het. Skotland se hoofafrigter, Gregor Townsend, beskryf Nel as een van die beste stutte wat ooit vir die land gespeel het en sê afrigters en spelers het almal groot respek vir hom. Nel sal na sy uittrede waarskynlik op sy slaghuis in die Skotse hoofstad konsentreer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-301-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-184-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-13-sent per vat.
# En, die verslag van die TB-aanspreeklikheids-konsortium, ‘What About Mortality’ lig ongelykhede uit in tuberkulose-sterftes tussen mans en vroue. Mans se sterftekoers is 1,7 keer hoër as vroue s’n, en word toegeskryf aan rook- en drinkkoerse. Daarby neem mans minder deel aan MIV-verwante bedrywighede, het laer TB-toetskoerse en hou minder by behandeling. Die verslag dui aan TB bly die hoof-oorsaak van sterfte onder mense met MIV, met meer as 50-persent van TB-sterftes wat by MIV-positiewe mense voorkom weens verswakte immuunstelsels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….