Nuus 15:00
BULLETIN 15 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK word gevra om verligting aan alle betrokke partye te bied ná die ANC se hof-oorwinning
# China en Noord-Korea open ‘n grensbrug ná ‘n jare lange vertraging
# En tennis: Monfils tree uit as die laaste van die Franse musketiers
# Die Afrika Mayibuye-beweging sê die Verkiesingskommissie moet dieselfde verligting aan alle politieke partye bied wat benadeel is deur probleme met aanlyn stelsels vir kandidate-benoemings. Die Konstitusionele Hof het die ANC tegemoetgekom oor 181 kandidate wie se besonderhede wel vasgelê is, maar nie finaal ingedien is nie. Woordvoerder Sydney Baloyi sê die OVK moet die hofuitspraak regverdig toepas en alle kwalifiserende kandidate kans gee om aan volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing deel te neem:
# Suid-Afrikaanse wynprodusente is versigtig optimisties oor ‘n goeie 2027-seisoen ná vanjaar se bogemiddelde oes. Vroeë tekens dui op gesonde wingerdgroei en voldoende water. Weerstoestande, insluitend die moontlike invloed van El Niño, kan egter steeds die oes beïnvloed. Wyn Suid-Afrika se uitvoerende bestuurder, Gerard Martin, sê dit is nog te vroeg om die moontlike uitwerking daarvan te bepaal en moedig produsente aan om seisoenale weervoorspellings noukeurig dop te hou. Die bedryf worstel ook met hoë wynvoorrade en swakker vraag, wat wins onder druk plaas.
Nog landbounuus:
Die regering se Ekonomiese Groepering sê landelike vroue speel ‘n belangrike rol in voedselproduksie, werkskepping en die groei van plaaslike ekonomieë. Dit is vandag Internasionale Dag vir Landelike Vroue. Die regering bied ondersteuning deur landbouprogramme, grondhervorming, sakebefondsing en vaardigheidsopleiding, en brei ook opleiding in digitale vaardighede uit om vroue te help met toegang tot markte en finansiële dienste. Woordvoerder William Baloyi sê die grondtoekenningsbeleid mik na 50-persent-toekenning aan vroue:
Nuus uit die buiteland:
# China en Noord-Korea het ‘n belangrike grensbrug geopen ná vertragings van langer as ‘n dekade. Dis daarop gemik om handel tussen die twee lande te bevorder. Die Nuwe Yalu-rivierbrug van drie-kilometer verbind die Chinese stad Dandong met Sinuiju in Noord-Korea. Dis reeds in 2014 voltooi, maar nooit in gebruik geneem nie weens onvoltooide paaie en doeanegeriewe aan die Noord-Koreaanse kant. China is Noord-Korea se grootste handelsvennoot. Die nuwe grensoorgang sal na verwagting mettertyd handel en vervoer tussen die twee lande vergemaklik.
# Tennis: Die Franse ster Gaël Monfils het op 40 amptelik uitgetree na ‘n loopbaan van 22 jaar. Sy naam verskyn sedert 5 Oktober op die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap se lys van uitgetrede spelers. Spelers wat uittree, moet ingevolge teen-opkikkerreëls minstens ses maande aan toetse onderwerp word voordat hulle na mededingende spel kan terugkeer. Monfils wou nog volgende maand aan die Paryse Meesterstoernooi deelneem, maar dis weens dié reël nie moontlik nie. Sy laaste wedstryd was in September op die Amerikaanse Ope. Hy het 13 ATP-titels gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-926-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….