Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die Hooggeregshof in Pretoria het die uitspraak oor ‘n dringende hofaansoek deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, tot 2 April uitgestel. Die staat het onderneem om Mapisa-Nqakula nie in hegtenis te neem tot die hof beslis het nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig soos Business Day oor Mapisa-Nqakula se hofaansoek. Haar regspan het aangevoer inhegtenisneming sal haar reg op vryheid en reputasie skaad en ‘n dagvaarding sou ‘n beter uitweg wees.
Tweedens is daar nuus oor ‘n nuwe spesie Afrika brulpadda wat deur professor Louis du Preez en sy span by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom ontdek is.
En laastens word berig die Handelshof in Pretoria het die voormalige maatskappysekretaris en hoof van regsake van Steinhoff, Stéhan Grobler borgtog van 150-duisend-rand toegestaan.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor Grobler se borgtog.
En berig ook oor Mapisa-Nqakula en Eerste Nasionale Bank wat sewe dae gegun is om oudpresident Jacob Zuma se bankrekenings te heropen.
# Sowetan:
Berig oor die Nasionale Vervolgingsgesag wat sê Mapisa-Nqakula het hulle ondersoek probeer fnuik en enige pogings om haar in die hof te kry in die wiele gery.
# En The Citizen:
Skryf volgens kenners is die kanse skraal dat die ANC ‘n koalisie met die EFF sal sluit aangesien Julius Malema eerder Zuma se MK-party sal nader aangesien beide dieselfde ekonomiese transformasiebeleid het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Nosiviwe Mapisa-Nqakula.
En tweedens berig die koerant die sogenaamde loervink-stiefpa wat sy dogter deur ‘n sekerheidskamera in haar kamer dopgehou het, is skuldig bevind aan die vervaardiging en besit van kinderpornografie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
Dan word ook berig oor Stéhan Grobler se borgtog.
En laastens is daar ‘n storie oor ‘n huis in die Bel Ombre-landgoed in Constantia wat vir 107-miljoen-rand in die mark is.
# En Cape Times:
Skryf kommer neem toe oor die ses vermiste vissermanne.
En berig ook oor Stéhan Grobler se borgtog en oor die Vervolgingsgesag wat sê Mapisa-Nqakula moet anwoorde gee oor die aanklagte teen haar.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die eienaars van huisvesting vir sowat 14-duisend studente in Nelson Mandelabaai dreig om die studente uit te sit indien die NSFAS nie vir die verblyf betaal nie.
En skryf die inhegtenisneming van sewe verdagtes vir die vlaag huisrooftogte in Gqeberha was van korte duur nadat ses van die verdagtes weer vrygelaat is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf inwoners het ‘n griefskrif saamgestel teen die tariefverhogings in eThekwini.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n voormalige polisie-reservis, die 50-jarige Johann Wickus Maree, het onskuldig gepleit op aanklagte dat hy 15 seuns seksueel misbruik het.
En skryf tweedens drie lede van die Namibiese Weermag is borgtog in die Rundu-landdroshof geweier nadat hulle na bewering ‘n koedoe, eland en wildebees sonder ‘n permit met hul dienswapens geskiet het.