Nuus 06:00
BULLETIN 12 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê die uitsetting van onwettige buitelandse burgers sal voortduur
# Donald Trump beweer Rusland en Oekraïne het ooreengekom op ‘n energie-skietstilstand
# En krieket: Australië is in ‘n sterk posisie ná die derde dag van die eerste toets teen die Proteas
# Die voorsitter van die Interministeriële Komitee oor Migrasie, Mmamoloko Kubayi, sê die regering sal voortgaan om immigrasiewette toe te pas, insluitend die uitsetting van onwettige buitelanders. Kubayi het in Pretoria die gevolge van die Konstitusionele Hof se uitspraak uiteengesit. Sy sê buitelandse burgers wat onwettig in die land is sonder dat hulle om asiel aansoek gedoen het, asook diegene wie se asielaansoeke ná alle hersienings- en appèlprosesse finaal afgekeur is, sal steeds ingevolge die wet gedeporteer word:
Kubayi, sê ook Suid-Afrika bly ‘n grondwetlike demokrasie waar die oppergesag van die reg geld. Sy sê kwessies rakende asielsoekers, migrasie en grensbestuur moet volgens die wet opgelos word. Dit volg nadat 30 mense sedert Donderdag in KwaZulu-Natal en Gauteng in hegtenis geneem is, insluitend persone wat na bewering onrus aangehits en spanning in gemeenskappe veroorsaak het. Kubayi waarsku die regering sal nie dreigemente, intimidasie of enige onwettige optrede wat openbare veiligheid in gevaar stel, duld nie:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verwelkom die Openbare Beskermer se prestasie nadat al haar prestasieteikens in die 2025/26-boekjaar bereik is. Die instelling het ook ‘n skoon oudit ontvang, sonder enige wesenlike bevindings deur die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika. Die voorsitter, Xola Nqola, sê die komitee bly egter bekommerd oor die beskerming van inligting wat fluitjieblasers verskaf en die deurlopende toepassing van vertroulikheidsprotokolle. Hy beklemtoon die belangrikheid van voldoende maatreëls om fluitjieblasers te beskerm en sensitiewe inligting vertroulik te hou.
# Die Gautengse primier, Panyaza Lesufi, verwelkom die inhegtenisneming van ‘n pastoor wat na bewering betrokke was by die moord op ‘n vier maande oue baba. Die 36-jarige verdagte is Saterdag in Diepsloot aangekeer en sal na verwagting vandag in die Landdroshof in Atteridgeville verskyn. Sy twee vroue het Vrydag in die hof verskyn. Woordvoerder van die Gautengse regering, Elijah Mhlanga, sê die dood van ‘n onskuldige baba onder sulke omstandighede is skokkend en hartverskeurend:
# President Donald Trump beweer Rusland en Oekraïne het ‘n “energie-skietstilstandooreenkoms” bereik. Dit volg nadat die Oekraïnse president, Wolodimir Zelenski, Trump se aankondiging van ‘n ooreenkoms om Russiese diesel na die VSA in te voer, veroordeel het. Trump sê dit is ‘n “geskenk” aan president Wladimir Putin. Hy het op sosiale media verklaar dat albei partye tot die ooreenkoms ingestem het. Intussen het Zelenski vir die Amerikaanse nuuswebwerf Axios gesê Trump se aankondiging is “nuus” vir hom, maar dat hy sal instem indien die Russe tot ‘n energie-skietstilstand instem.
# Krieket: Australië bevind hulself in ‘n sterk posisie op die derde dag van die eerste toets teen Suid-Afrika in Durban. Die Proteas is vir 284 lopies uitgeknikker in antwoord op die besoekers se eerste beurt van 390. David Bedingham was die beste kolwer met 49 lopies. Steve Smith het die toetsrekord vir die meeste vangskote deur ‘n veldwerker verbeter deur met vier vangskote te slaag en sy totaal op 223 te staan te bring. Australië hervat vandag hul tweede beurt op 33 sonder verlies, met ‘n voorsprong van 139 lopies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-859-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-188-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….