Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat het ’n klopjag op die huis van die parlementêre speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula uitgevoer. Dit volg na bewerings dat sy ten minste 2,3-miljoen-rand van ‘n voormalige militêre kontrakteur ontvang het tydens haar ampstermyn as minister van Verdediging.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die klopjag op Mapisa-Nqakula se huis. Die koerant berig die EFF en ander partye het geëis dat sy uit respek vir die Parlement moet bedank.
Tweedens het die koerant nuus oor die witkruisarend-broeipaar in die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Roodepoort wat hard besig is om nes te bou.
En laastens is daar ‘n brokkie oor die Russiese president Vladimir Putin wat China in Mei gaan besoek.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die klopjag op Mapisa-Nqakula se huis. Sy hou vol sy is onskuldig.
En berig oor die ANC se verkiesingshofaansoek om die registrasie van die MK-party onwettig te laat verklaar.
# Sowetan:
Berig Mapisa-Nqakula is op haarself aangewese om die korrupsiebewerings teen haar te beveg. Sy het net enkele maande oor in haar amp as speaker.
# En The Citizen:
Skryf hoe talle mense in Suid-Afrika se hoop en drome vernietig word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ook oor die hofstryd tussen die ANC en die Onafhanklike Verkiesingskommissie oor die registrasie van die MK-party. Oudpresident Jacob Zuma het ná die Verkiesingshof se sitting gesê die MK-party gaan die ANC regstreeks aanvat in die verkiesing.
En tweedens skryf die koerant mielieboere van die Wes-Vrystaat en Noordwes staar algehele misoeste in die gesig. Die droë, warm toestande het ‘n kriteke fase van die mielies se ontwikkeling ontwrig.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Mapisa-Nqakula.
Dan berig die koerant minstens twee mense het omgekom in ‘n ongeluk op die N1 net voor die Klapmuts-afrit waarin ‘n bakkie betrokke was.
En laastens is daar nuus oor die hengelaar wat ‘n pofadder in plaas van ‘n vis by die Klein-Brakriviermonding naby Mosselbaai uitgetrek het.
# En Cape Times:
Skryf daar is al hoe meer beroepe dat die speaker van die Nasionale Vergadering moet bedank.
En berig die OVK sê hy is gereed om enige oortreding van reëls deur politieke partye te hanteer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die stadbestuurder van Nelson Mandelabaai, Noxolo Nqwazi het voortydig opgetree toe sy die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap se direksie van hul ontbinding in kennis gestel het. Die Hooggeregshof in Gqeberha moet die finale beslissing maak.
En tweedens skryf die koerant ‘n teatergroep wat reeds dekades in die geskiedkundige kunsgebied van Nelson Mandelabaai gehuisves was, ontruim hulle perseel nou oor die stygende misdaad in die stad.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal, Siboniso Duma moet 100 beeste vir die Zoeloe-koning Misuzulu kaZwelithini gee om verskoning te vra vir sy openbare uitbarsting teenoor die tradisionele Zoeloe-premier, Thulasizwe Buthelezi.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Novecy-apteek in Windhoek mag voortgaan om medisyne saam te stel om in kliënte se behoeftes te voorsien.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese president, Nangolo Mbumba sê staatshoofde moet die behoeftes van hul landsburgers voor dié van hul onderskeie politieke partye stel.