Nuus 06:00
BULLETIN 7 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom die bevindinge van die Afrika-kommissie oor migrasie en menseregte
# Die VF Plus vra president Ramaphosa om die werklikheid van plaasmoorde te erken en te veroordeel
# En Olimpiese Spele: Suid-Afrika sluit by die wedloop aan om die 2036 Olimpiese Somerspele aan te bied
# Die regering het die voorlopige bevindinge van die Afrika-kommissie oor Menseregte en die Regte van Volke oor migrasie in Suid-Afrika verwelkom. Die Interministeriële Komitee oor Migrasie sê die kommissie het erkenning gegee aan die land se wetlike raamwerk vir die beskerming van menseregte, insluitend dié van vlugtelinge en asielsoekers. Hy het ook kennis geneem van uitdagings soos ongedokumenteerde migrasie, werkloosheid, armoede, misdaad en vyandigheid teenoor buitelandse burgers. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê die regering bly verbind tot die bestuur van migrasie op ‘n wettige en menswaardige manier:
# Die DA sê brandstofpryse kan verlaag word deur die Padongelukkefonds te vervang en die heffing wat dit finansier, af te skaf. Chris Hunsinger van die party sê die Padongelukkefonds het uitstaande eise van sowat 450-miljard-rand, terwyl sy jaarlikse inkomste slegs 47-miljard-rand beloop. Hunsinger voeg by dat motoriste meer vir brandstof betaal om ‘n stelsel te finansier wat besig is om te misluk, en hy dring aan op dringende hervorming om die koste van petrol en diesel te verlaag:
# Die Vryheidsfront Plus vra president Cyril Ramaphosa om die werklikheid van plaasmoorde in die land te erken en te veroordeel. Dit volg op die moord op die 55-jarige Hannetjie van Zyl, wat oor die kop geslaan is terwyl sy besig was om ‘n hek op haar plaas, Doornpan, in Noordwes oop te maak. Sy het op pad na die hospitaal aan haar beserings beswyk. Die leier van die VF Plus, Corné Mulder, sê plaasaanvalle is die gewelddadige gevolge van haatspraak en aanhitsing soos “Kill the Boer”, wat Ramaphosa weier om te veroordeel.
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming sê die agteruitgang van die Stad Johannesburg is nie slegs die gevolg van swak bestuur of munisipale onbevoegdheid nie. In sy jongste verslag, getiteld ‘Time for Action – Corruption in Joburg‘, wys die sentrum op ‘n gevestigde netwerk van politieke, sake- en misdaadbelange wat met die plaaslike regering verweef geraak het en aktief voordeel trek uit wanfunksionering. Die sentrum se uitvoerende direkteur, Ann Bernstein, het kiesers aangemoedig om die plaaslike verkiesing te gebruik om Johannesburg te red van wat sy beskryf as ‘n “vernietigende misdadige stadsraad-ekosisteem” wat floreer op die metro se verval.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika is een van sewe lande wat belangstelling getoon het om die Olimpiese Somerspele van 2036 aan te bied. Die ander lande is Indië, Katar, Duitsland, Hongarye, Turkye en Suid-Korea. Die Internasionale Olimpiese Komitee sê lande het tot die einde van dié maand tyd om hul belangstelling bekend te maak, voordat ‘n kortlys in Maart volgende jaar opgestel word. Die Olimpiese Spele van 2028 vind in Los Angeles plaas, terwyl Brisbane die Spele van 2032 sal aanbied. Suid-Afrika het nog nooit die Olimpiese Spele aangebied nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-533-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nobelprys vir Fisika vir 2026 is aan Francis Halzen toegeken na hy Antarktiese ys op ‘n nuwe manier omskep het om die heelal waar te neem. Halzen, ‘n Belgies-Amerikaanse fisikus, het die prys ontvang vir sy deurslaggewende bydraes tot die IceCube-neutrino-observatorium en die ontdekking van hoë-energie-neutrino’s van astrofisiese oorsprong. Neutrino’s word dikwels “spookdeeltjies” genoem omdat hulle ‘n uiters klein massa het en nouliks met materie in wisselwerking tree. Miljarde daarvan beweeg elke sekonde deur mense se liggame sonder dat hulle dit agterkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….