Nuus 07:00
BULLETIN 18 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê dreigemente van verkiesingsgeweld sal nie geduld word nie
# Nog ‘n verdagte word in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van Joslin Smith
# En, Olimpiese Spele: Die IOK sê net 40 Russiese atlete mag moontlik in Parys deelneem
# President Cyril Ramaphosa sê dreigemente van geweld of enige optrede teen die demokratiese bestel sal nie geduld word nie. Dit volg na ‘n beweerde aanval Saterdag op sommige ANC-lede tydens ʼn regeringsgeleentheid in KwaCeza in Nongoma in die noorde van KwaZulu-Natal. Die regerende party beweer in ʼn verklaring IVP-lede het die aanval uitgevoer. Ramaphosa doen ʼn beroep op alle politieke partye om met verdraagsaamheid en respek op te tree, veral gedurende hierdie verkiesingsjaar:
Die IVP het intussen die ANC wat hom beskuldig dat hy Saterdag sy lede aangeval het, veroordeel. Die ANC-vroueliga sê IVP-ondersteuners het die slagoffers in hul visier gehad en is aangehits deur die Zululand-distriksmunisipaliteit se burgemeester, Thulasizwe Buthelezi. Die IVP sê die ANC wat sy lede van geweld beskuldig sonder enige bewyse, is uittartend en dis gemik op die destabilisering van die provinsie in aanloop tot die belangrike verkiesing op 29 Mei.
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, sê die land het elektroniese bewegingskontrolestelsels by alle toegangsplekke, in en uit die land. Die stelsel registreer elektronies die datum en tyd van mense se bewegings oor grense. Motsoaledi voeg by besoekers se paspoorte en visas dui ook die aantal dae aan wat hulle in die land mag bly:
# Die Wes-Kaapse polisie het bevestig ʼn 32-jarige vrou is in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van Joslin Smith. Drie beskuldigdes, insluitend die meisie se ma, het verlede week hulle aansoek om borgtog laat vaar terwyl aanklagte teen ʼn vierde beskuldigde laat vaar is. Die jongste verdagte sal na verwagting vandag in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van mensehandel en ontvoering verskyn. Die soektog na Joslin, wat verlede maand uit haar familie se huis in Middelpos verdwyn het, duur voort.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê geen internasionale druk sal sy land keer om al sy oorlogsdoelwitte te bereik nie. Die militante Hamas-groep het Israel verlede jaar in Oktober aangeval, een-duisend-200 mense doodgemaak en meer as 250 gyselaar geneem. Israel het teruggeveg en meer as 31-duisend mense is in Gaza dood. Netanyahu sê hulle sal seker maak hulle wis Hamas uit, bevry al die gyselaars en sorg dat Gaza nooit weer ʼn bedreiging vir Israel is nie.
# Olimpiese Spele: Die visepresident van die Internasionale Olimpiese Komitee, John Coates sê hy is onseker hoeveel Russiese atlete vanjaar aan die Parys-spele gaan deelneem. Russiese en Belarussiese atlete mag slegs as neutrale mededingers aan individuele items deelneem weens Moskou se inval in Oekraïne. Coates sê daar kan so min as 40 Russiese atlete wees wat as neutrale mededingers aan die Spele deelneem. Moskou het die beperkings bestempel as onwettig, onregverdig en onaanvaarbaar.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-810-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-148-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….