Goeie Nuus
BULLETIN 12 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Kaapstadse Internasionale Jazzfees keer op 3 en 4 Mei hierdie jaar terug na die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum, ná ‘n onderbreking van vier jaar. Vanjaar se fees beloof ‘n wye reeks van jong en gesoute kunstenaars, om ‘n verskeidenheid gehore te lok met bekende name, insluitend Zoë Modiga en Mandisi Dyantyis. Die fees se verhoë, wat voorheen Kippies, Moses Molelekwa en Rosies genoem is, sal nou bekend staan as Sapphire, Ruby en Emerald, met die toevoeging van ‘n buitelugverhoog genaamd Topaz.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Kuns en Ontwerp en die Oos-Randse Kunsskool het ‘n ooreenkoms gesluit. Dit stel personeel, studente en leerders van albei inrigtings in staat om lewens te verander in verskillende velde van die skeppende kunste. ‘n Professor van die TUT, Nalini Moodley, sê hulle wil jong, ontluikende kunstenaars bemagtig om ‘n positiewe bydrae tot die samelewing te lewer.
# Altesaam 150 werklose jeugdiges van die Buffalo City-munisipaliteit in die Oos-Kaap is voorsien van ‘n leerderskapgeleentheid om hulle te bemagtig, en hulle vaardighede te ontwikkel en te verbeter. Die deelnemers is uit 50 wyke in die metro gekies. Die projek word gelei deur die munisipaliteit se Direktoraat Ekonomiese Ontwikkeling en Agentskap. Deelnemers word in vier studievelde opgelei, naamlik generiese bestuur, beroepsgesondheid en veiligheid, begrafnisdienste en rekenaarstudies vir eindgebruikers. Hulle sal ‘n maandelikse toelaag ontvang tot einde Maart volgende jaar, wanneer die leerderskap eindig.
# ‘n Organisasie in Winterveld, Pretoria, het ʼn gemeenskapsprojek begin waar plaaslike inwoners help om vleilande skoon te maak in ruil vir kruideniersware. Die Ya Bana-kinderdorpie en Winterveld-skoonmaakveldtog bied inwoners geleentheid om Ya Bana Village Moola te verdien vir elke sak vullis wat hulle inhandig. Die moolas wat verdien word, kan by die Ya Bana-dorpie se snoepie vir kruideniersware geruil word. Van die artikels wat beskikbaar is, sluit in mieliemeel, kookolie, rys en suiker.
# En, laastens: Die 91-jarige Stewart Banner sê hy is vasbeslote om volgende jaar aan sy 17de Kaapstadse Fietstoer deel te neem. Hy het Sondag lelik geval in vanjaar se wedren by Misty Cliffs. Stewart het egter mediese behandeling gekry en ná ʼn onderbreking van 50 minute voortgegaan en die wedren voltooi. Sy seun, Iain, sê dis ʼn wonderwerk dat sy pa kon klaarmaak terwyl hy vol pleisters is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….