Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die uitvoerende hoof van die Bulle, Edgar Rathbone, sê hulle sal in die komende af-seisoen baie minder spelers werf omdat hulle tevrede is met die span se vordering onder die direkteur van rugby, Jake White. Die Bulle is tans tweede op die punteleer van die Verenigde Rugby-kampioenskap en ook in die uitspeelrondes van die Kampioenebeker. Die unie het verlede jaar heelwat belê in nuwe spelers, en manne met baie ondervinding soos die Springbok Willie le Roux en die haker Akker van der Merwe bygekry. Rathbone sê hulle het nou ‘n gevestigde kerngroep.
# Tennis: Die kwalifiseerder Luca Nardi het die wêreld nommer een, Novak Djokovic, in die derde ronde van die Indian Wells-ope uitgeskakel. Die 20-jarige Italianer, wat nommer 123 in die wêreld is, het die Serwiër 6-4, 3-6, 6-3 uitgestof in die grootste oorwinning van sy loopbaan. Hy is die laagste geplaaste speler nóg wat Djokovic verslaan in ‘n ATP Meesters Een-duisend- of ‘n Grand Slam-toernooi. Nardi sê hy is geïnspireer deur die onlangse welslae van sy landgenoot, Jannik Sinner:
Die jong Amerikaner, Ben Shelton, sal môre Sinner se 17 agtereenvolgende oorwinnings probeer stuit wanneer hulle in die laaste 16 van Indian Wells kragte meet. Sinner lyk op die oomblik onstuitbaar en het sy Australiese Ope-titel opgevolg met ‘n sege in die Rotterdamse Ope in Nederland. Sinner is derde gekeur en Shelton 16de. Die 32ste gekeurde Tsjeggiese speler, Jiri Lehecka, speel volgende teen Stefanos Tsitsipas van Griekeland nadat hy die vyfde gekeurde Rus, Andrey Rublev, in die vorige ronde uitgeskakel het.
# Sokker: Die Engelse Premierliga het ingestem dat klubs ‘n nuwe finansiële stelsel vir die kompetisie instel wat die omstrede winsgewendheids- en volhoubaarheidsreëls vervang. Die stelsel sal in ooreenstemming wees met UEFA se Finansiële Volhoubaarheidsregulasies wat van 2025 tot ’26 die besteding op oorplasingsfooie en spelersvergoeding tot 70-persent van ‘n klub se inkomste beperk. Die nuwe reëls sal nie die voortgesette sake oor Everton, Nottingham Forest en Manchester City raak nie, wat steeds volgens die bestaande finansiële modelle beoordeel sal word.
# En, laastens: Die Statebondspele-federasie sê hy voer tans gevorderde, vertroulike samesprekings met moontlike gasheerlande vir 2026 se Spele. Die Australiese staat Victoria het in Julie verlede jaar onttrek as gevolg van stygende koste. Maleisië se Olimpiese Raad het bekend gemaak hy het ‘n amptelike uitnodiging gekry om die Statebondspele in 2026 aan te bied. Die federasie sê hy verwelkom die vernuwende voorstelle en voer positiewe gesprekke met moontlike gashere. Die Spele is nog net twee keer uitgestel: in 1942 en ’46, weens die Tweede Wêreldoorlog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….