Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig na aanleiding van die uitgelekte ANC-kandidatelys blyk dit dat die samestelling van die Kabinet aansienlik jonger kan wees ná 29 Mei. Daar is moontlik ook talle veranderings. Dit word gesien teen die moontlikheid dat die ANC sy meerderheid in die Parlement kan verloor.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor die uitlekking van die ANC én die MK-party se kandidatelyste by die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Die koerant skryf dit het talle vrae laat onstaan of die OVK in staat is om ‘n vry en regverdige verkiesing aan te bied.
Dan is daar ‘n berig met foto’s oor die talle Gautengers wat aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem het.
En laastens is daar ‘n brokkie oor die Amerikaanse owerhede wat steeds ontken dat wesens uit die buitenste ruimte die aarde besoek het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Numsa sê die uittredende minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan het alles vernietig waarmee hy te doen gehad het.
En berig die reeksverkragter Thabo Bester dreig met regstappe teen MultiChoice indien Showmax die dokumentêre program oor hom uitsaai.
# Sowetan:
Berig die familie ‘n huishulp wat deur honde verskeur is, Tryphina Mngomezulu, sê hulle het eers verneem wat gebeur het toe die polisie ‘n geregtelike doodsondersoek geopen het. Haar werkgewer het hulle nooit ingelig nie.
# En The Citizen:
Lei met: “WILL ANC HEADS ROLL?” Die koerant vra die vraag na aanleiding van die uitgelekte kandidatelys.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Bloemfonteinse grondbesetters wat nou finaal die trekpas gekry het, sê die ANC gaan boet, want dié party het hulle na bewering aangemoedig om hul onwettig op die grond langs die Jagersfontein-pad tuis te maak.
En tweedens is daar nuus oor die Suid-Afrikaanse armdrukkampioen, Gerhard Taljaard van Tosca in die Kalahari. Hy sê plaaswerk het hom so sterk gemaak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die doodslag op Wes-Kaapse paaie die afgelope naweek. Altesaam 24 mense is in afsonderlike voorvalle dood. Die meeste het in busongelukke omgekom.
Dan word berig oor die eredoktorsgraad wat Rassie Erasmus van die Universiteit van Noordwes gaan ontvang.
En laastens skryf die koerant sowat 11-duisend Wes-Kaapse leerders woon elke Saterdag spesiale klasse by om hul akademiese prestasie te verbeter.
# En Cape Times:
Skryf die OVK stel amptelik ondersoek in na die ANC en MK-party se kandidatelyste uit uitgelek het.
En berig ook oor die ongelukke wat talle lewens geëis het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die omstrede prokukeur van Gqeberha, Du-Wayne Stoltz was na bewering drie maande nadat hy geskors is by verskeie bedrieglike aksies betrokke.
En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaap se rolprentbedryf het ‘n reddingsboei van 10-miljoen-rand ontvang van die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie en die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IVP het ‘n 13-punt-plan vir Suid-Afrika bekend gestel. Dit sluit in werkskepping, ekonomiese hervorming en die herstel van die energiekrisis.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig indien Botswana ‘n wetsontwerp aanvaar wat die uitvoer van jagtrofeë na die Verenigde Koninkryk verbied, sal dit nie net ’n verwoestende uitwerking op dié land hê nie, maar ook op ander lande, insluitend Namibië.
En tweedens skryf die koerant Swapo gaan nie ’n buitengewone kongres hou nie. Die party gaan Netumbo Nandi-Ndaitwah as sy kandidaat vir vanjaar se nasionale verkiesing ondersteun.