Nuus 06:00
BULLETIN 28 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa veroordeel die massa-skietvoorvalle wat meer as 30 lewens geëis het
# Die liggaam van ‘n elfde vrou is in Springs, Ekurhuleni, gevind
# En rugby: Rassie Erasmus bied geen verskonings aan vir hul nederlaag nie
# President Cyril Ramaphosa het die naweek se massa-skietvoorvalle in die land veroordeel. Sewentien mense is by ‘n taverne in Wedela aan die Wes-Rand doodgeskiet, terwyl tien mense oor die naweek in Lwandle, Kaapstad, doodgeskiet is. Intussen is elf mense verlede week in ‘n massa-skietvoorval by ‘n huis in die KwaMakhutha-woonbuurt in Durban dood. Tydens ‘n toespraak gister in Gauteng het Ramaphosa gesê hierdie vlakke van geweld moet bekamp word:
# Die polisie stel ondersoek in nadat die liggaam van ‘n elfde vrou gister langs ‘n spoorlyn in Struisbult, Springs, in Ekurhuleni gevind is. Die liggaam is volgens berigte deur ‘n patrollievoertuig van ‘n sekuriteitsmaatskappy opgemerk wat roetinepatrollies in die gebied uitgevoer het. Die jongste vonds volg te midde van ‘n voortgesette ondersoek na ‘n reeks liggame wat die afgelope maande regoor Ekurhuleni gevind is. Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê ondersoekers sal die ooreenkomste tussen die moorde ondersoek:
# Die Afrika Mayibuye Movement het die dood van 27 mense by kroeë in twee afsonderlike voorvalle in Gauteng en die Wes-Kaap oor die naweek veroordeel. Die beweging se woordvoerder, Sydney Baloyi, sê die Grondwet waarborg elke burger se reg op lewe, en die voortdurende geweld teen vroue en gemeenskappe is onaanvaarbaar. Hy sê arrestasies en ondersoeke is noodsaaklik, maar doen ‘n beroep op volgehoue polisiëring en misdaadvoorkomingstrategieë om openbare veiligheid te verbeter. Baloyi sê sy beweging weier om ‘n werklikheid te aanvaar waarin gesinne gedwing word om hul geliefdes te begrawe terwyl hele woonbuurte in vrees leef.
# Die Noordwes Provinsiale Tesourie versterk ondersteuning aan munisipaliteite om die bestuur, besteding en rapportering van infrastruktuurtoelaes te verbeter. Die hoof van die Tesourie, Ndlela Kunene, sê effektiewe toelaebestuur is noodsaaklik om te verseker dat openbare fondse in infrastruktuur en dienste vir gemeenskappe omskep word. Hy sê oordragaansoeke is van tien munisipaliteite ontvang en sal deur die Nasionale Tesourie nagegaan word in ooreenstemming met die Munisipale Finansiële Bestuurswet. Hy sê die aansoeke moet berus op onvoorsiene en onvermydelike omstandighede.
# Die Britse polisie het vyf mans in hegtenis geneem wat onder verdenking staan dat hulle ‘n terreurdaad in Whelford, naby RAF Fairford in Gloucestershire, beplan het. Die polisie het inwoners van 85 huise in die omgewing ontruim. Volgens die polisie duur die ondersoek om die volle aard van die voorval vas te stel voort, terwyl terrorismebestrydingseenhede ondersoek instel of Iran by die voorval betrokke is. Daar was die afgelope maande protesoptrede oor die Britse regering se besluit om die VSA toe te laat om RAF Fairford te gebruik vir aanvalle op Iranse missielinstallasies wat skepe in die Straat van Hormoes aanval.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het geweier om verskonings te maak vir hul nederlaag van 42-38 teen die Wallabies gister in Perth. Die Bokke was teen rustyd met 24-17 agter en ná 63 minute met 42-17 agter, voordat ‘n laat herlewing hulle binne vier punte van hul teenstanders gebring het. Dit was egter nie genoeg nie, ten spyte daarvan dat Australië in die laaste elf minute vier spelers weens geel kaarte verloor het. Erasmus, wat 13 veranderinge vir die eenmalige toets aangebring het, sê hulle het hulself in ‘n posisie geplaas waaruit hulle nie kon herstel nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-176-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-262-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….