Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Polisie, Bheki Cele moet ingevolge ‘n bevel van die Hooggeregshof in Pretoria 93-miljoen-rand skadevergoeding aan Nedbank betaal. Die hof het bevind Cele is aanspreeklik vir die optrede van sy beamptes wat in 2014 die geld gesteel het.
# En, Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “ON YOUR MARKS”. Die koerant skryf dis ‘n maak-of-breek-week wat voorlê vir politieke partye met die verkiesingswedloop wat in alle erns begin. Wat die ANC betref het niks verander nie – die staatskapingsname is nie deur die party se NUK van die kandidatelys verwyder nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig belastingbetalers sal moet opdok noudat die kredietgraderingsagentskap Moody’s die Ekurhuleni-metro se gradering dieper in rommelstatus verlaag het. Dit beteken die metro sal sukkel om geld te leen, en as hy wel daarin slaag, sal dit hom duurder kos.
Dan skryf die koerant oor vier persone se hofverskyning vir die ontvoering van die sewejarige Joslin Smith van Saldanha. Twee van die beskuldigdes is Joslin se ma, Kelly Smith en haar kêrel Jacquin (Boeta) Appollis.
En laastens is daar nuus dat die wêreldbekende skilderende vark van die Farm Sanctuary SA in Franschhoek, Pigcasso gevrek het nadat hy chroniese rumatoïede artritis opgedoen het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf daar is ‘n ernstige waarskuwing uitgereik aan diegene wat beplan om die verkiesing deur geweld te ontwrig.
En berig oor die gevare van nierversaking wat tot die dood van talle lei.
# Sowetan:
Berig oor die slagoffer van ‘n polisieskietvoorval 14 jaar gelede wat vanuit sy rolstoel steeds pleit dat die staat skadevergoeding betaal. Die polisie ontken enige aandadigheid.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening hoewel Rise Mzansi en Build One South Africa waarskynlik nie baie steun gaan kry in die verkiesing nie, is hulle vernuwende denke baie belangrik vir die land.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ook oor die verdagtes in die Joslin Smith-saak wat in die hof verskyn het. Die koerant skryf die skare buite die hof het geëis dat die vier aan hulle oorhandig moet word. Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle Joslin vir 20-duisend-rand verkoop het.
En tweedens berig die koerant die munisipale bestuurder van Mangaung, Sello More sê die polisie en Rooi Miere is gereed om die sowat drie-duisend grondbesetters in Bloemfontein te verwyder.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Volksblad.
Dan skryf die koerant ‘n vermeende rower wat probeer het om Giovanni’s Deli World in Groenpunt te beroof se wapen het in ‘n stoeiery met die bestuurder in twee gebreek.
En laastens is daar nuus oor ‘n Oos-Kaapse onderwyser wat uit eie beweging ‘n leerder geskors het wat na bewering ‘n stokkielekker gesteel het.
# En Cape Times:
Skryf die beskuldigdes in die Joslin Smith-saak kan nog aanklagte in die gesig staar.
En berig die polisie het sonder sukses leidrade oor Smith in Mosselbaai opgevolg.
OOS-KAAP:
# Daily Dispatch in Oos-Londen:
Berig Israel het Suid-Afrika daarvan beskuldig dat hy die Wêreldhof misbruik het om die Islamitiese militante groep Hamas te help.
En skryf tweedens oor die bekende atleet van Makhanda, Terri-Lynn Penney wat oorlede is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei vandag met ‘n fotobeeld van die uitwerking van die munisipale staking op Durban. Die koerant se hoofopskrif lui: “WE ARE LIVING IN A RUBBISH DUMP”.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Swapo se sentrale komitee moet besluit om ’n buitengewone kongres te hou om ’n nuwe president te kies of om te wag tot ná die nasionale verkiesing.
En tweedens skryf die koerant twee selfone, kontant en ’n spesiale handgemaakte mes word vermis nadat die Namibiese toergids, Chad Wratten verlede maand in sy voertuig verdrink het.