Nuus 12:00
BULLETIN 6 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ACSA pak infrastruktuur en sekerheids-uitdagings aan
# LUR Allen maan publiek om op te hou om fopnuus oor Joslin Smith se verdwyning te versprei
# En, rugby: Rassie Erasmus is baie tevrede met sy afrigtingspan se eerste vergadering
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het infrastruktuur- en veiligheidskwessies aangepak en ‘n belegging van 21,7-miljard-rand oor vyf jaar aangekondig. Die uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, sê die doel is om die beskikbaarheid van bates, lughaweveiligheid en passasiers-ervaring te verbeter. Dit volg ná kritiek oor gesteelde goedere en stukkende kameras by lughawens. Mpofu sê die belegging sal fokus op opknappings, verbeterings en statutêre nakoming om verbeterde dienste by die land se lughawens te verseker:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê hy neem kennis dat die polisie vier mense ondervra in verband met die sewejarige Joslin Smith van Saldanhabaai se verdwyning. Twee mans en twee vroue tussen 26 en 34 jaar word ondervra. Allen maan mense om op te hou om vals nuus oor Joslin se verdwyning en die voortgesette soektog na haar te versprei:
Intussen sê Missing Children South Africa meer as een-duisend-300 gevalle van ontvoering word elke maand by die polisie aangemeld. Matthew Ohlsson, wat destyds nege jaar oud was, het reeds in 1997 buite sy huis in Mitchells Plain weggeraak en is nooit gevind nie. Missing Children South Africa se koördineerder, Bianca Van Aswegen, sê tensy dit onlangs gebeur het, word daar nie genoeg aandag gegee aan sake van vermiste kinders nie.
# Rugby: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Eramus, is baie tevrede met sy afrigtingspan se strategiese vergadering van twee dae in Kaapstad. Die nuwe verdedigingsafrigter, Jerry Flannery, die nuwe aanvals-afrigter, Tony Brown, en die uitgetrede internasionale skeidsregter, Jaco Peyper, wat tans die nasionale reëlraadgewer is, het by hom aangesluit. Drie-en-veertig spelers woon vandag ‘n belyningskamp by, waar die afrigtingspan se beplanning en besprekings voortgesit word. Die Bokke begin op 22 Junie hul internasionale seisoen teen Wallis op Twickenham in Londen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-559-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-128-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-74-sent per vat.
# En, die Universiteit Stellenbosch se studente-geleide Move4Food-veldtog bied hulp aan studente wat nog nie hul Nasionale Studente Finansiële Hulpskema-befondsing ontvang het nie. Studente ontvang nie-bederfbare kos en koopbewyse, wat onmiddellike verligting bied aan diegene wat sukkel terwyl hulle wag vir die laat NSFAS-geld. Candice Egan van Move4Food sê die fokus van die projek is om ‘n omgee-gemeenskap te skep wat bewus is van die behoeftes van sy studente en hulle bystaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….