Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ondanks die welkome styging in goudpryse, het die metaalprodusent Sibanye-Stillwater aangekondig dat hy die afgelope jaar tot einde Desember ‘n verlies van 33-persent aangeteken het. Die maatskappy het ‘n verlies van 37,4-miljard-rand rapporteer, vergeleke met ‘n wins van 19-miljard-rand in 2022.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die buitensporige uitgawes van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente of NSFAS. Die skema het uit kantore wat 600-duisend-rand per maand kos getrek na ‘n gebou wat twee-miljoen-rand per maand kos.
Dan skryf die koerant Anton Bouwer van Kemptonpark wat beskuldig word van die moord op sy ouers, aangenome suster en hul huishulp gaan nie in die stadium om borgtog aansoek doen nie.
En laastens is daar nuus oor ‘n Nederlandse man wat reeds vier dekades met ‘n oorgeplante hart oorleef.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die ANC moet streng keuring toepas met die samestelling van sy kandidatelys.
En berig die EFF is veroordeel oor sy optrede teen die party se parlementslid, Naledi Chirwa wat nie ‘n sitting kon bywoon nie omdat haar kind siek was.
# Sowetan:
Berig daar is ‘n sindikaat wat spaza-eienaars uit hul winkels verdryf en dit oorneem. Die afgelope maand is vier winkeleienaars doodgeskiet.
# En The Citizen:
Skryf die afgedankte Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane dring steeds daarop aan sy wil haar 10-miljoen-rand bonus hê.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die grondbesetting langs die Jagersfonteinpad buite Bloemfontein is steeds nie opgelos nie en gemoedere vlam nou op. Die DA het intussen die Hooggeregshof genader vir ‘n bevel om die besetters te verwyder.
En tweedens skryf die koerant oor Joslin Smith se verdwyning. Die polisie het twee mans ondervra wat beken het dat hulle ‘n sewejarige meisie vir muti verkoop het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die woorde: “Joslin verkoop vir R20 000”. Die koerant het ‘n reusefoto van Joslin Smith op sy voorblad en skryf breedvoerig oor die polisie se ondervraging van twee mans in verband met die meisie se verdwyning. Die koerant skryf ook daar is aanduidings dat nog verdagtes in hegtenis geneem gaan word.
# En Cape Times:
Skryf daar is volgens ‘n studie bevind dat die vuurwerkvertoning by die Waterfront gestaak moet word.
En berig die hof het ‘n aansoek verwerp om die inenting teen Covid te staak.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig agt jaar ná die bekendstelling van die Beijing Auto Industrial Corporation se aanleg in Nelson Mandelabaai is produksie nou aan die gang.
En tweedens skryf die koerant mense in Nelson Mandelabaai wat die openbare verhore oor die Bela-wet bywoon, is meer bekommerd oor leerders se veiligheid as dit wat die wysigingswetsontwerp kan bring.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die leier van die African Democratic Change-party, Visvin Reddy sê daar sal geen verkiesing in KwaZulu-Natal wees as Zuma se MK-party nie kan deelneem nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die dorpsraad Aroab in die suide van Namibië vergader môre met NamWater om moontlike oplossings vir die dorp se waterskuld van ongeveer 1,4-miljoen-rand te vind. Beurtwater word tans drie keer per dag toegepas.
Dan skryf die koerant ’n psigiater van Swakopmund wat vroeër onskuldig bevind is op aanklagte van die verkragting van ’n pasiënt, moet in April voor die Mediese en Tandheelkundige Raad van Namibië verskyn.
En laastens is daar nuus oor die weesbabas van die Katutura-staatshospitaal wat almal uitgeplaas is na gesinne.