Nuus 06:00
BULLETIN 22 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Leo Brent Bozell wil nie die name bekend maak van die Suid-Afrikaners wat deur die visumbeperkings geraak word nie
# Die derde verdagte wat in verband met die Dawn Park-moord in hegtenis geneem is, word vrygelaat
# En die groot Amerikaanse TV-netwerke steun CNN deur hul dekking van die Withuis op te skort
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake sal nie die name bekend maak van Suid-Afrikaners wat deur die onlangs aangekondigde visumbeperkings geraak word nie. Die beperkings, wat verlede week aangekondig is, is gemik op individue wat deur die VSA beskuldig word van betrokkenheid by rassediskriminasie. Dit sluit in Swart Ekonomiese Bemagtiging en grondonteiening sonder vergoeding. Bozell het aan die SABC gesê die Trump-administrasie het reeds in Januarie verlede jaar ‘n uitvoerende bevel uitgereik waarin die kwessies uiteengesit is:
# Die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief vra ‘n deeglike ondersoek na Onderstepoort Biological Products weens beweerde manipulasie van die pryse van bek-en-klouseer-entstof en die maatskappy se produksievermoë. Die organisasie eis ook antwoorde oor die vyf-honderd-miljoen-rand wat volgens berigte by die maatskappy verdwyn het. Dit volg na die voorsorgskorsing van die waarnemende uitvoerende hoof van die staatsvervaardiger, Jacob Modumo. Modumo se skorsing hou egter nie ‘n bevinding van wangedrag in nie. Theo de Jager van Saai sê die maatskappy het boere in die steek gelaat en behoort geprivatiseer te word.
# Die nasionale adjunkpolisiekommissaris, Tebello Mosikili, het bevestig dat die man wat saam met twee vroue in verband met die moord op Jabulile Ntimba in hegtenis geneem is, vrygelaat en nie aangekla is nie. Haar liggaam is verlede week in Villa Liza naby Dawn Park gevind. Sy is die negende vrou wat sedert Julie vanjaar dood aangetref is in Ekurhuleni. Twee vroue wat met haar moord verbind word, het gister vlugtig in die Boksburg-landdroshof verskyn. Mosikili sê die polisie beskik nie oor voldoende bewyse om die saak teen die derde verdagte voor die hof te bring nie:
# Die groot Amerikaanse televisienetwerke NBC, ABC, CBS en Fox News steun CNN deur hul gesamentlike mediadekking van die Withuis te staak. Hulle sal nie verslag doen oor president Donald Trump se geleenthede nie. Dit volg nadat Trump CNN, Politico en MS NOW toegang tot die Withuis geweier het, na beweringe dat die organisasies “fiksie of leuens” oor sy administrasie berig. Die betrokke media-organisasies het die regering gedagvaar. In ‘n gesamentlike verklaring sê die netwerke geen regering mag ‘n nuusorganisasie beperk bloot omdat hy beswaar het teen die organisasie se verslaggewing nie.
# Rugby: Alle spanaankondigings in die Verenigde Rugbykampioenskap sal vir die duur van die seisoen om drie-uur (Suid-Afrikaanse tyd) op die Donderdag van ‘n wedstrydweek plaasvind. In vorige seisoene is die spanne gewoonlik 24 uur voor afskop aangekondig. Volgens die organiseerders volg die proeflopie op terugvoer van media- en uitsaai-vennote wat vroeër toegang tot nuus oor spanne wou hê, terwyl die spanne self bereid is om by te dra tot ‘n langer en meer konsekwente aanloop tot wedstryde. Die seisoen skop Vrydagaand af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-354-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 100-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: Nuwe navorsing toon mense gebruik daagliks sowat 28-persent minder woorde as in 2005. Navorsers het opnames ontleed van meer as twee-duisend mense in 22 studies wat tussen 2005 en 2019 gedoen is en bevind die aantal woorde wat mense daagliks gebruik, het jaarliks met sowat 338 afgeneem. Dit was selfs meer onder mense jonger as 25. Sielkundiges sê slimfone, boodskapdienste, aanlynaankope en minder persoonlike gesprekke kan daartoe bydra hoewel die navorsing nie ‘n enkele oorsaak vir die verskynsel kon uitwys nie. Navorsers waarsku hierdie afname in alledaagse gesprekke kan sosiale en kognitiewe gevolge hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….