Nuus 14:00
BULLETIN 4 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse styg Woensdag
# Die GOOD-party gaan voort met ‘n dissiplinêre verhoor teen Peter de Villiers
# En, tennis: Alcaraz klop Nadal in ‘n vertoonwedstryd in Vegas
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie het ‘n vooruitsig gegee van wat motoriste moet verwag om van Woensdag af vir brandstof te betaal. Robert Maake van die departement sê hierdie maand se brandstofprysstygings sal petrol, diesel, lampolie en vloeibare petroleumgas raak. Hy sê die verhogings is gekoppel aan verhoogde oliepryse, ‘n rand wat afneem teen die Amerikaanse dollar en onveranderde heffingsvlakke teen nul-sent per liter:
# Die GOOD-party sê hy tree doelgerig op teen die lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, Peter de Villiers, ná bewerings van seksuele aanranding en teistering. De Villiers is na ‘n volledige interne ondersoek geskors, hangende ‘n formele dissiplinêre verhoor, wat na verwagting Donderdag sal begin. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die party is verbind tot geslags-regte en sy grondwet, wat gelyke regte voorstaan, asook die bestryding van geslagsgeweld. Hy het onderneem om na afloop van die verhoor die bevindinge bekend te maak:
# Die Nasionale Tesourie sê as deel van infrastruktuurhervormings word die privaat sektor toegelaat om méér in infrastruktuurvoorsiening te belê. Die Tesourie vereenvoudig en hervorm op die oomblik die openbare venootskapsraamwerk met die privaat sektor om beleggings in te sluit. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê die uitdagings van die voortslepende energiekrisis, ‘n verswakkende en onbetroubare logistieke stelsel, gebrekkige infrastruktuur en klimaatrisiko’s vereis die tegniese én finansiële steun van die private sektor:
# Die VN se menseregtehoof, Volker Turk, sê die Gaza-oorlog tussen Israel en Hamas is ‘n tikkende tydbom met die potensiaal om ‘n breër konflik in die Midde-Ooste te ontketen. Hy sê in sy globale opdatering aan die Verenigde Nasies se Menseregteraad die oorlog het reeds ‘n gevaarlike situasie veroorsaak in buurlande, en hy is diep bekommerd dat enige vonk kan lei tot ‘n baie breër konflik. Turk sê dit sal gevolge inhou vir elke land in die Midde-Ooste en talle ander buite die streek.
# Tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, het net-net daarin geslaag om sy beroemde Spaanse landgenoot, Rafael Nadal, in hulle vertoonwedstryd in Las Vegas, Amerika, te klop. Nadal het die eerste stel gebuit en Alcaraz die tweede, waarna Alcaraz sy teenstander in die beslissende valbylpot 14-12 uitgeknikker het. Albei spelers het die wedstryd gebruik as voorbereiding vir die Indian Wells Meesterstoernooi wat Vrydag begin. Nadal was ‘n jaar lank buite aksie weens ʼn heupbesering voor sy terugkeer in Januarie in Australië kortgeknip is as gevolg van ʼn skeurtjie in ʼn spier.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-108-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-85-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….