Nuus 12:00
BULLETIN 29 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Stad Kaapstad stuur ‘n span om te help soek na die vermiste Joslin Smith
# Transnet belê 1-miljard-rand in ‘n marienevloot-hernuwingsprogram
# En, tennis: ATP-toer en Saoedi-Arabië teken ‘n ooreenkoms vir wêreldwye groei
# Die Stad Kaapstad het polisiebronne gestuur om te help met die soektog na die vermiste ses-jarige Joslin Smith in Saldanhabaai aan die Weskus. Sy word al langer as ‘n week lank vermis nadat sy verdwyn het buite haar huis in die Middelpos-informele nedersetting. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hulle het ‘n groot span met ondervinding gestuur om te help met die soektog na Joslin:
Intussen het die Gautengse polisie ‘n vrou in Protea Glen in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van, en moord op haar bure se vierjarige kind. ‘n Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die vrou het Keeya Mbulawa skynbaar verlede maand ‘n middel ingegee en haar in ‘n reissak geplaas om haar te ontvoer. Sy sê die meisie se ma het na haar kind gesoek en aangedring om die vrou se baggasie te deursoek, waar sy haar dogter gevind het. Die meisie is aan haar beserings in die hospitaal dood:
# Transnet het een-miljard-rand toegeken aan sy marienevloot-hernuwingsprogram, wat die aankoop van sewe sleepbote behels om werksaamhede by handelshawens ‘n hupstoot te gee. Die sleepbote sal verouderde vaartuie in Durban en Oos-Londen se hawens vervang. Die skeepsboumaatskappy Damen Shipyards in Kaapstad het die kontrak gekry vir die lewering van vyf sleepbote aan Durban en twee aan Oos-Londen tussen April en Augustus vanjaar. Dit sal Transnet se maritieme vermoë en die doeltreffendheid van sy hawe-bedryf versterk.
# Die Amerikaanse kletsrymer Ja Rule se toer deur Brittanje is in die gedrang nadat hy weens sy misdaadrekord toegang tot die land geweier is. Hy sou môre sy Sunrise-toer in Cardiff afskop, gevolg deur konserte in Liverpool, Nottingham, Leeds, Birmingham en Londen. Die kunstenaar, wie se regte naam Jeffrey Bruce Atkins is, sê hy het meer as nege-miljoen-rand bestee om die toer saam te stel en kan nie glo die owerhede wil hom nie toelaat omdat hy twee-jaar tronkstraf weens belastingontduiking en vuurwapen-klagtes uitgedien het nie.
# Tennis: Die ATP-toer en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het ‘n strategiese vennootskap van vyf jaar gesluit om die groei van die sport wêreldwyd te versnel. Die fonds sal voortaan ook in die titel van die toer genoem word en sal op groot toernooie in Indian Wells, Miami, Madrid en Beijing, die ATP-eindstryd en die Next Gen ATP-eindstryd op die baan aangebring word. ATP se hoofbestuurder, Massimo Calvelli, sê die vennootskap sal die toekoms van die sport op die lang termyn verstewig:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-922-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….