Nuus 11:00
BULLETIN 16 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika kondig visumbeperkings aan op Suid-Afrikaners wat moontlik by rasgebaseerde diskriminasie betrokke is
# Die UDM vra ‘n dringende en gekoördineerde reaksie op die vrouemoorde in Ekurhuleni
# En rugby: Die Springbok-afrigter sê spelerbestuur is noodsaaklik voor die eenmalige toets teen die Wallabies
# Die Amerikaanse regering het visumbeperkings aangekondig op Suid-Afrikaners wat betrokke is by regering-ondersteunde diskriminasie teen Afrikaners en ander minderheidsgroepe. Dit is van toepassing op diegene wat beskou word as verantwoordelik vir beleide of optrede wat grondonteiening sonder vergoeding, rasgebaseerde diskriminasie, of aanhitsing van geweld teen rasse- of etniese minderhede toelaat. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die Suid-Afrikaanse regering het nie na behore gereageer op aangeleenthede wat voorheen uiteengesit is nie. Hy sê dit ondermyn vrede, ekonomiese bestendigheid en die oppergesag van die reg.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, is verlig dat die strafregtelike aanklagte teen die geskorste nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, teruggetrek is. Masemola is aangekla van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit hou verband met die omstrede Medicare24-tender van 228-miljoen-rand. Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, het die aanklagte teruggetrek nadat die saak heroorweeg is. Cachalia sê hy het altyd geglo dis onregverdig dat Masemola strafregtelik vervolg word:
# Die UDM vra dringende, gekoördineerde optrede nadat die liggame van agt vroue die afgelope twee maande in die Ekurhuleni-metro in Gauteng gevind is. Die polisie het bevestig al die slagoffers wat in Kemptonpark gevind is, is seksueel aangerand, maar probeer nog vasstel of die gevalle verbind kan word. Die UDM se nasionale voorsitter, Yongama Zigebe, sê die patroon en tydperk waarin die moorde plaasgevind het, moet veroordeel word en eis die hoogste vlak van dringendheid deur wetstoepassings- en ander owerhede:
Nuus uit die buiteland:
# Die Saoedi-geleide militêre koalisie sê hy gaan die nodige afskrikmaatreëls instel teen die Irans-gesteunde Jemeense rebellegroep, die Houthi’s. Dit volg nadat ‘n Houthi-hommeltuig gister aan die buitewyke van Islam se heiligste stad, Mekka, afgeskiet is. Dis die eerste keer dat die rebellegroep Mekka teiken sedert ʼn ballistiese missiel in 2017 onderskep is. Die koalisie se woordvoerder, Turki al-Malki, sê die veiligheid van Islam se twee heiligste stede en van pelgrims is ʼn rooi streep. Hy sê hierdie doelbewuste optrede wil die gevoelens van miljoene Moslems uitlok.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê spelerbestuur is van die uiterste belang te midde van die span se veeleisende reisprogram die afgelope paar weke. Die Bokke berei tans voor vir volgende naweek se eenmalige toets teen die Wallabies in Perth. Die span het gisteraand in Australië aangekom na hul reeks-oorwinning oor die All Blacks in Baltimore in Rugby’s Greatest Rivalry. Erasmus sê hulle gaan te staan kom teen ‘n vasberade Wallabie-span wat ‘n goeie vertoning voor hul tuisskare wil lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-994-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-334-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….