Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die Stormers word beskou as die gunstelinge wanneer hulle Saterdag Pretoria toe reis om met die Bulle kragte te meet in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd op Loftus Versfeld. Dit is omdat die Kaapse span al sewe hulle VRK-wedstryde tot dusver teen hulle noordelike teenstanders gewen het. Die gashere het met ‘n veldtog begin om dié keer die stadion vol te pak, nadat hulle tot dusver die seisoen voor net ‘n handjievol ondersteuners moes speel. Die Bulle is tans derde op die punteleer en die Stormers sesde.
Nóg Rugbynuus, is dat die voormalige Springbok-hulpafrigter Matt Proudfoot terugkeer huis toe. Hy is die nuwe afrigter van die Luiperds, met hulle hoofkwartier in Potchefstroom, Noordwes – net om die hoek van sy geboortedorp, Klerksdorp. Proudfoot het van 1998 tot 2003 vir Skotland gespeel voordat hy afrigter was by die Universiteit van Noordwes, Westelike Provinsie, die Stormers en Kobelco Steelers in Japan. Hy was van 2016 tot na 2019 se Wêreldbekertoernooi betrokke by die Springbokke, en het hom toe aangesluit by Engeland se afrigtingspan voor ‘n tydperk by die Namibiese nasionale span.
# Sokker: Everton se 10 punte wat afgetrek is omdat hy die Premierliga se winsgewendheid- en volhoubaarheidsreëls oortree het, is ná hulle appèl tot ses verminder. Die Engelse klub is in November verlede jaar gestraf nadat bevind is hulle het toegelate verliese oorskry met die assessering van die tydperk tot en met die 2021-2022-seisoen. Na die verlaging het Everton van die 17de tot 15de plek op die Premierliga-punteleer opgeskuif. Die klub kan egter nog punte verloor nadat hy verlede maand saam met Nottingham Forest aangekla is van beweerde oortredings met hulle rekeninge vir 2022/2023.
# Motorsport: Die bevindings van ‘n onafhanklike ondersoek na die Red Bull-spanbaas, Christian Horner, sal na verwagting bekendgemaak word voor die naweek, wanneer die seisoen met die Bahreinse Grand Prix afskop. Die ondersoek is gedoen ná bewerings deur ‘n vroulike kollega dat Horner homself onbehoorlik teenoor haar gedra het. Hy ontken die bewerings. Die omvattende verslag oor die ondersoek is volgens berigte aan die Red Bull-raad oorhandig om te besluit of Horner in sy tweeledige rol as spanhoof en uitvoerende hoof sal aanbly.
# En, laastens, Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray, het bespiegel dat sy loopbaan as tennisspeler nog net ‘n paar maande kan duur. Die Brit wat aanvanklik ʼn stel agter was, het teruggeveg en die Kanadees Denis Shapovalov met 4-6, 7-6 en 6-3 verslaan in die eerste ronde van die Dubai-kampioenskap. Dis sy 500ste toervlak-sege op ʼn harde baan wat hom slegs die vyfde manspeler in die geskiedenis maak wat dié mylpaal bereik. Murray sê hy het waarskynlik nie meer baie tyd oor om te speel nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….