Nuus 08:00
BULLETIN 25 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar moet gevolge wees vir korrupte leiers
# Tennis: Jasmine Paolini van Italië veg terug en wen ‘n Dubai Ope-titel
# En, die soektog duur voort na ‘n ses-jarige meisie van Saldanhabaai aan die Weskus, wat sedert Maandag vermis word.
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa het ‘n oproep gedoen om gevolg-bestuur vir korrupte leiers, en dat korrupsie as ‘n misdaad teen Suid-Afrikaners hanteer moet word. Hy voer aan korrupte leiers moet aanspreeklik gehou word en beklemtoon die noodsaaklikheid om ‘n maatskaplike ooreenkoms téén korrupsie met wetstoepassing te bou. Ramaphosa het ook die belangrikheid beklemtoon van die beskerming van fluitjieblasers:
# Eskom het ‘n verlaging in beurtkrag na fase 2 aangekondig vanaf vyf-uur vanoggend tot vieruur vanmiddag. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokoena, sê die besluit volg op die herstel van noodreserwes oornag en die potensiële terugkeer van twee opwekkingseenhede teen vandag. Die kragvoorsiener het die skedule vir beurtkrag uiteengesit, met fase 3-beurtkrag wat van vier uur vanmiddag tot vyfuur môre-oggend ingestel sal word.
# Die ontslape Namibiese president Hage Geingob sal vandag ter ruste gelê word in een van die mausoleums in die Helde-akker in die Namibiese hoofstad, opsygesit vir staatshoofde. Die begrafnisdiens in Windhoek sal deur verskeie staats- en regeringshoofde, insluitend president Cyril Ramaphosa, bygewoon word. Geingob se eersgebore seun, Mangaliso Toure Fernandez Geingob, het vroeër tydens ‘n gedenkdiens sy pa se nagedagtenis geëer:
# Tennis: Jasmine Paolini van Italië het gister haar eerste WTA 1000-titel verower met ‘n oorwinning in drie stelle teen die Russiese kwalifiseerder Anna Kalinskaya in die eindstryd van die Dubai Ope. Paolini, wat 26ste gekeur was, het die eerste stel verloor maar teruggeveg om met 4-6, 7-5, 7-5 te wen en sal môre die eerste keer onder die top 20 wees. Dit is die 28-jarige se tweede loopbaantitel sedert 2021.
# En, om mee af te sluit: Die soektog duur voort na ‘n ses-jarige meisie van Saldanhabaai aan die Weskus, wat sedert Maandag vermis word. Die polisie sê Joslin Smith is in die sorg gelaat van haar ma se vriend. News24 berig die polisie het verskeie mense ondervra, wat haar ma se vriend insluit, maar daar was nog geen nuwe verwikkelinge nie. Die burgemeester van Saldanhabaai André Truter sê twee mense het 20-duisend-rand aangebied vir die munisipaliteit om ‘n beloning uit te reik vir betroubare inligting oor waar sy is. Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, het intussen ‘n beloning van 100-duisend-rand uitgereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….