Nuus 09:00
BULLETIN 10 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sal die DA se aansoek teenstaan om betrokke te raak by hul Kieshofsaak
# Zelensky se vliegtuig is met opstyging van Moldawië amper deur ‘n Russiese hommeltuig getref
# En tennis: Elena Rybakina haal die nommer-een-posisie op die ranglys
# Die ANC wil die DA-aansoek om betrokke te raak by sy saak in die Verkiesingshof teenstaan. Dit gaan oor kandidaatlyste vir ses munisipaliteite in die November-verkiesing. Die ANC appelleer teen die Verkiesingskommissie se uitsluiting van kandidate nadat die party die sperdatum op 28 Augustus misgeloop het, maar ‘n “tegniese probleem” met die aanlyn stelsel blameer. Die DA sê indien die ANC kandidate ná die sperdatum mag indien, is dit onregverdig teenoor partye wat die kommissie se reëls nagekom het. Die ANC sê die DA se ingryping gaan oor veldtogvoering en nie die Grondwet nie.
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy bly uiters bekommerd oor strukturele swakhede wat steeds die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, IDAC, se onafhanklikheid ondermyn. Dit volg na onthullings oor IDAC-operasies by die Madlanga-kommissie. Die vakbond-woordvoerder, Claude Naicker, sê die direktoraat rapporteer regstreeks aan die minister van Justisie, en dit wek kommer oor sy onafhanklikheid en ondermyn die idee van ware onafhanklikheid. Hy sê ware onafhanklikheid vereis dat daar geen politieke en administratiewe inmenging is nie:
# Golden Arrow Busdiens het die Arbeidshof se besluit om ‘n interdik toe te staan wat vandag se staking van die National Union for All Sectors voorkom, verwelkom. Die sake wat van die unie geopper het gaan onder andere oor die toepassing van dissiplinêre sake. Die woordvoerder van Golden Arrow, Bronwen Dyke-Beyer, sê as ‘n werknemer glo dissiplinêre optrede was onregverdig, is die gepaste probleemoplossingsmeganismes, insluitend deur die Suid-Afrikaanse Padpassasier Onderhandelingsraad beskikbaar:
# ‘n Russiese hommeltuig wat Moldawië se lugruim binnegedring het, het amper ‘n vliegtuig met die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky aan boord getref. Dit het die vertrek van die vliegtuig vertraag. Zelensky het Dinsdagaand van Moldawië na Oslo in Noorweë vertrek vir die begrafnis van Koning Harald gister. Die hommeltuig het na wat berig word sowat 160 kilometer van die Chișinău Internasionale Lughawe in Moldawië se hoofstad ontplof. Moldawië se ambassadeur in Amerika, Vladislav Kulminski, het aan CNN gesê die insident was heel waarskynlik nie ‘n ongeluk nie:
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Elena Rybakina, is die wêreld-nommer-een nadat sy na die Amerikaanse Ope se halfeindronde deurgedring het. Die Kazak het die Chinese kwalifiseerder, Zheng Qinwen, verslaan en sal Aryna Sabalenka Maandag as wêreld-nommer-een vervang. Rybakina kom teen die Amerikaner, Coco Gauff, te staan wat Mirra Andreeva van Rusland geklop het. In die mansafdeling spook Alexander Zverev en die Rus, Karen Khachanov, sake uit in die halfeindronde nadat die Rus met die Nederlander, Botic van de Zandschulp, afgereken het. Khachanov is deur na die halfeindronde nadat die Belg, Alexander Blockx, weens ʼn besering moes onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-356-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-412-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….