Nuus 16:00
BULLETIN 23 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa proklameer 29 Mei as verkiesingsdatum
# Die MK-party werf swaargewig-regslui vir sy hofstryd teen die ANC
# En, in Krieket: Australië wen die T20-reeks teen Nieu-Seeland
# Suid-Afrikaners het tot middernag om te registreer om te stem in die komende verkiesing nadat president Cyril Ramaphosa 29 Mei amptelik as die verkiesingsdatum geproklameer het. News24 berig die Onafhanklike Verkiesingskommissie se adjunk-uitvoerende hoof, Mawethu Mosery, het die proses voor die verkiesing uiteengesit, insluitend die sluiting van die kieserslys nadat die proklamasie gepubliseer is. Die finale verkiesingsrooster sal ná ‘n komiteevergadering hierdie naweek aan politieke partye voorgelê word. Dit sal na verwagting vroeg volgende week in die Staatskoerant gepubliseer word. Daar is tans 27,6-miljoen kiesers op die kieserslys.
Intussen het die uMkhonto we Sizwe-party top-regslui, onder andere advokate Dali Mpofu en Muzi Sikhakane, betrek om sy naam en logo teen die ANC te probeer verdedig. Die regerende party betwis die party se registrasie en het die Verkiesingshof genader om die party te keer om die verkiesing te betwis in kleure wat die ANC-geskiedenis en logo weerspieël. News24 berig die voormalige nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Nomgcobo Jiba, sal ook deel uitmaak van MK se regspan in die hofsaak, wat vir 19 Maart in Bloemfontein op die hofrol is.
# Die DA se nasionale woordvoerder vir Staatsdiens en Administrasie, Leon Schreiber, het die uitwerking van die ANC se kaderontplooiingsbeleid onthul. Dit sluit in, die ANC beheer die vraag- en aanbod kant van senior administratiewe rolle in verskeie rade, staatsondernemings en onafhanklike staatsinstellings. Die dokument, van een-duisend-300 bladsye, beklemtoon die gereedheid van lojale ANC-kaders om belangrike posisies te aanvaar, met aansoeke wat ingedien word by die ontplooiingskomitee by Luthuli-huis, om sleutelaanstellings te beïnvloed:
# Die Tshwane-metro sê dis verblydend dat alle gemeenskappe wat deur die onlangse storms geraak is die hulp kry wat hulle nodig het. Die metro het verlede naweek onder swaar weer en donderstorms deurgeloop. Die stad se nooddienste is na meer as 25 stormverwante voorvalle uitgeroep. Sowat 40 huisies is beskadig in die Kekana Gardens-plakkerskamp by Hammanskraal. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, sê die Nooddiensdepartement se reaksiespanne werk onverpoosd om dinge na normaal te laat terugkeer:
# Krieket: Australië het Nieu-Seeland met 72 lopies verslaan in die tweede T20 in Auckland. Die besoekers is vir 174 uitgeboul, met Travis Head se 45 die hoogste telling. Lockie Ferguson het vier paaltjies geneem. Maar die oënskynlik maklike teiken was te veel vir die gashere, wat dadelik paaltjies begin verloor het en binne 17 boulbeurte almal uit was vir 102. Adam Zampa het vier slagoffers geëis. Australië het daarmee die reeks beklink, nadat hulle ook die eerste wedstryd gewen het. Die laaste een word Sondag gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 50-duisend-935-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….