Nuus 15:00
BULLETIN 23 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners het tot middernag om te registreer om te stem in die verkiesing
# Die DA waarsku oor moontlike tronkstraf vir sommige ANC-lede rakende kaderontplooiing
# En, in Krieket: Die Proteas moet in die eerste week van die T20-uitdaagreeks speel voordat hulle na die IPL vertrek
# Suid-Afrikaners het tot middernag om te registreer om te stem in die komende verkiesing nadat president Cyril Ramaphosa 29 Mei amptelik as die verkiesingsdatum geproklameer het. News24 berig die Onafhanklike Verkiesingskommissie se adjunk-uitvoerende hoof, Mawethu Mosery, het die proses voor die verkiesing uiteengesit, insluitend die sluiting van die kieserslys nadat die proklamasie gepubliseer is. Die finale verkiesingsrooster sal ná ‘n komiteevergadering hierdie naweek aan politieke partye voorgelê word. Dit sal na verwagting vroeg volgende week in die Staatskoerant gepubliseer word. Daar is tans 27,6-miljoen kiesers op die kieserslys.
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het ‘n aanmaningsbrief aan die ANC gestuur waarin hy aandring die party moet gehoor gee aan die Konstitusionele Hof se uitspraak dat kaderontplooiingsrekords terugwerkend tot 2013 vrygestel moet word. Hy beklemtoon die ANC se versuim om president Cyril Ramaphosa se e-posse en WhatsApps in te sluit tydens sy ampstermyn as die komitee se voorsitter. Steenhuisen beklemtoon ook hoe belangrik dit is om die uitwerking van kaderontplooiing op die land bloot te lê:
# Die eienaars van die Enyobeni-taverne in die Oos-Kaap, waar 21 tieners in Junie 2022 dood is, is gevonnis tot ‘n boete van vyf-duisend-rand elk of 100 dae tronkstraf vir die verkoop van drank aan ‘n minderjarige. Die Streekhof in Oos-Londen het bevind Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu het drank aan minstens een minderjarige verkoop tydens ‘n viering in die taverne. Landdros Kevin von Bratt sê die saak was in verband met oortreding van die Drankwet en nie die sterftes self nie:
# Krieket: Die Proteas wat by die Indiese Premierliga betrokke is, het opdrag gekry om in die eerste week van die T20-uitdaagreeks te speel voordat hulle vertrek. Die plaaslike kompetisie begin op agt Maart en al agt Afdeling Een-spanne sal deelneem. Die Proteas wat nie vir die IPL gekies is nie, sal vir die hele duur van die T20-uitdaagreeks beskikbaar wees. Die IPL begin op 22 Maart en eindig op 26 Mei – net vyf dae voor die begin van die T20 Wêreldbekertoernooi in Amerika en die Karibiese Eilande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-150-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-58-sent per vat.
# En, laastens: Talle nuwe kunstenaars sal te sien wees op die tweede jaarlikse Journey to Jazz-fees wat van een tot vyf Mei in Prins Albert in die Wes-Kaap plaasvind. Die Suid-Afrikaanse jazz-sanger, -pianis en -komponis Thandi Ntuli; Women of the World van die Berklee Indian Ensemble; en ‘n jazz-kwintet bestaande uit drie Suid-Afrikaners en twee Switsers, Skyjack, het ook by die uitgelese groep deelnemers aangesluit. Die organiseerders sê die fees sal ʼn allegaartjie van moderne en klassieke jazz wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….