Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 23 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die privaat-geboude ruimtetuig, Odysseus, het geskiedenis gemaak deur die eerste Amerikaanse ruimtetuig in meer as 50 jaar te word wat op die maan land. Die Odysseus gaan die omgewing rondom die maan se suidpool verken voor NASA se beplande bemande sending daarheen in 2026. Die ruimtetuig behoort aan Intuitive Machines in Houston, Texas. NASA se administrateur, Bill Nelson, beskryf die sending as ‘n triomf:
# Talle nuwe kunstenaars sal te sien wees op die tweede jaarlikse Journey to Jazz-fees wat van een tot vyf Mei in Prins Albert in die Wes-Kaap plaasvind. Die Suid-Afrikaanse jazz-sanger, -pianis en -komponis Thandi Ntuli; Women of the World van die Berklee Indian Ensemble; en ʼn jazz-kwintet bestaande uit drie Suid-Afrikaners en twee Switsers, Skyjack, het ook by die uitgelese groep deelnemers aangesluit. Die organiseerders sê die fees sal ʼn allegaartjie van moderne en klassieke jazz wees.
# Hakem Energies se stigter, Refilwe Sebothoma, is gedrewe om energie-oplossings te vernuwe te midde van Suid-Afrika se aanhoudende beurtkrag-uitdagings. Sy is deur haar onderneming ‘n voorstander van die gebruik van vloeibare petroleumgas, veral in landelike gemeenskappe en townships, wat ‘n veilige en volhoubare alternatief vir tradisionele brandstofbronne bied. Sebothoma sê sy het eerstehands gesien hoe baie mense sukkel om toegang tot skoon energie te verkry:
# Die Gautengse LUR vir Menslike Nedersettings en Infrastruktuur-ontwikkeling, Lebogang Maile, stel vandag die Kasi4Real-behuisingsprogram in Soweto bekend. Die toegang tot eiendom-lenings, aangekondig deur die Gautengse Vennootskapsfonds, wil behuisingstekorte pak en agterplaas-ontwikkelings in townships formaliseer. Die program beplan om moontlike township-ontwikkelaars te befonds om volhoubare, waardige lewensruimtes te skep en te voldoen aan die vraag na bekostigbare behuising.
# En, ten slotte: Die Victoria en Albert-museum in Londen oorweeg om sy eerste professionele Taylor Swift-raadgewer ooit aan te stel. Die wêreld se grootste museum vir toegepaste kuns, sierkuns en ontwerp wil ‘n super-bewonderaar van die 14-malige Grammy-bekroonde sanger aanstel om insigte te kry in die Swift-bewonderaarskultuur en die aandenkings wat hulle versamel. Die aansoeke open vandag. Die museum wil iemand aanstel voor die 34-jarige popster later vanjaar met die Europese skof van haar Eras-toer begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….