Nuus 12:00
BULLETIN 23 Februarie 12 nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê hy is slaggereed om op alle stembriewe te wees met meer as 100-duisend handtekeninge
# Nersa registreer 124 nuwe opwekkingsaanlegte
# En, Rugby: Skotland se afrigter benadruk die belangrikheid van die wedstryd teen Engeland
# RISE Mzansi sê hy het met trots en sukses 112-duisend-en-18 handtekeninge op die Verkiesingskommissie se portaal gelaai. Dit is genoeg om te verseker die party kan in al nege provinsies sowel as nasionaal aan die verkiesing deelneem. RISE Mansi se woordvoerder, Boitumelo Mpakanyane, sê ondanks die politieke bestel wat talle struikelblokke meebring vir onverteenwoordigde politieke partye, het die party vandag bevestig hy is gereed om elke moontlike setel op 29 Mei te betwis:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die registrasie van 124 opwekkings-aanlegte van altesaam 605 megawatt, in die derde kwartaal van die 2023/24-boekjaar aangekondig. Die hoogste aantal nuwe geregistreerde aanlegte is in die Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Charles Hlebela van Nersa, sê fotovoltaïese sonkragtegnologie oorheers met 122 fasiliteite, wat 604 megawatt bydra en ‘n belegging van 7,75-miljard-rand verteenwoordig:
# Amerika gaan vandag sanksies instel teen meer as 500 Russiese ondernemings. Dis die grootste stel sanksies sedert Moskou Oekraïne meer as twee jaar gelede ingeval het. Amerika se nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, sê die nuwe maatreëls sal ‘n breë reeks elemente dek wat verband hou met die Russiese verdediging se nywerheidsbasis en inkomstebronne vir die land se ekonomie wat die oorlog befonds. Sullivan beskryf die pakket as nog ʼn stap om Moskou vir die oorlog aanspreeklik te hou.
# Rugby: Skotland se afrigter, Gregor Townsend sê môre se wedstryd teen Engeland is hul belangrikste dié seisoen. Hy het drie veranderings aangebring vir die stryd in die derde ronde van die Sesnasies-kragmeting op Murrayfield. Blair Kinghorn, Kyle Steyn en Jamie Ritchie is terug in die span. Skotland wil Engeland môre vir die eerste keer in 52 jaar vir ‘n vierde agtereenvolgende keer klop. Townsend sê ‘n tuiswedstryd teen hul grootste teenstander is iets spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 50-duisend-954-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-20-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-3-sent per vat.
# En, laastens: ‘n Studie deur die Instituut vir Sekerheidstudies onthul Afrika is ‘n brandpunt vir dwelmsmokkelary, seerowery en onwettige visvang, veroorsaak deur armoede en korrupsie. Suid-Afrika word veral uitgelig as ‘n bestemming vir misdaadbedrywighede, in die sewende plek in die wêreld en derde vir die handel in kokaïen op die vasteland. Samewerking tussen Brics-lande word aangemoedig in die stryd teen onwettige bedrywighede uit Pakistan, Afghanistan en Iran, veral langs die Indiese Oseaan-seeroetes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….