Nuus 11:00
BULLETIN 10 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma gelas ‘n ondersoek na bewerings van manipulasie van die MK-party se kandidatelys
# ‘n Derde verdagte word in KwaZulu-Natal vasgetrek in verband met die moord op DJ Warras
# En Olimpiese Spele: SASKOK se president, Barry Hendricks, word geskors
# Die leier van die MK-party, Jacob Zuma, het ‘n ondersoek gelas na bewerings dat behoorlik benoemde kandidate van die partylys verwyder is wat aan die Verkiesingskommissie voorgelê is, en met ander name vervang is. Die bewering spruit voort uit die onlangse raadslidverkiesingsproses voor die plaaslike regeringsverkiesing. Zandile Hlophe-Mkhwanazi en Sibonelo Maphumulo is onverwyld uit die Nasionale Party-Skakelkomitee verwyder totdat die uitslag van die ondersoek bekend is. Die MK-party sê daar is geen plek vir manipulasie, politieke hekwagtery of die misbruik van organisasieprosesse nie.
Die ANC gaan intussen die DA se aansoek teenstaan om betrokke te raak by sy saak in die Verkiesingshof oor kandidaatlyste vir ses munisipaliteite. Die ANC appelleer teen die Verkiesingskommissie se uitsluiting van kandidate nadat die party die sperdatum op 28 Augustus misgeloop het, maar ‘n tegniese probleem met die aanlyn stelsel die skuld gee. Die DA sê indien die ANC kandidate ná die sperdatum mag indien, is dit onregverdig teenoor partye wat die kommissie se reëls nagekom het. Die ANC sê die DA se ingryping gaan oor veldtogvoering en nie die Grondwet nie.
# Die KwaZulu-Natalse polisie het ʼn derde verdagte, ʼn 40-jarige vrou, aangekeer vir die moord op die musikant Warrick “DJ Warras” Stock buite ʼn gekaapte gebou in die Johannesburgse middestad in Desember. ‘n Mosambiekse burger, Armando Pacula, is verlede maand tot 25-jaar tronkstraf gevonnis nadat hy erken het hy het Stock geskiet. Die saak teen die vermeende meesterbrein, Victor Majola, duur voort. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê die vrou sal binnekort voorkom:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump sê die oorlog teen Iran sal onmiddellik na die Amerikaanse middeltermyn-verkiesing in November eindig. Sy gewildheid daal in meningspeilings en hy kom onder druk van sy eie Republikeinse Party om die oorlog te beëindig. Brent-ruolie se prys het gister die eerste keer sedert Julie bo 100-dollar per vat gestyg ná verskerpte konflik in die Midde-Ooste. Trump gee toe Amerikaanse brandstofpryse sal waarskynlik nie voor die verkiesing daal nie:
# Olimpiese Spele: Die president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, Barry Hendricks, is met onmiddellike ingang geskors. Dit volg na bewerings van oortreding van die organisasie se beveiligingsbeleid en kodehandboek. SASKOK sê die skorsing is nie ʼn skuldigbevinding nie, maar gedoen om die integriteit en onafhanklikheid van die proses te beskerm en toe te laat dat SASKOK se regsliggaam die saak deeglik oorweeg. Die visepresident, Lwandile Simelane, sal intussen Hendricks se pligte waarneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-272-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-414-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….