Nuus 16:00
BULLETIN 22 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwag 75-duisend lede by sy manifes-bekendstelling in KwaZulu-Natal
# Rampokkers wat Suid-Afrika se sigaretmark beheer, word toegelaat om bedrywighede voort te sit
# En, ‘n wees-olifant vind ‘n tuiste by ‘n aanneem-gesin
# Die ANC sê alles is gereed vir Saterdag se manifes-bekendstelling in die Moses Mabhida-stadion in Durban. Die party verwag ‘n reuse-opkoms en het deeglik beplan vir die bywoning van 75-duisend mense. Dit sluit in 65-duisend lede op sitplekke en nog tien-duisend op die veld, met voorsiening vir bywoning buite die stadion. Adjunk-sekretaris-generaal Nomvula Mokonyane sê provinsies regoor die land toon belangstellling en die party se sekretariaat sal besonderhede oor hulle bywoning bekend maak:
# Die stigter van TAX Justice SA, Yusuf Abramjee, sê rampokkers wat Suid-Afrika se sigaretmark beheer, word toegelaat om straffeloos en sonder vrees hulle bedrywighede voort te sit. Die minister van Finansies Enoch Godongwana het gister aangekondig die Inkomstediens se ondersoeke na die goud- en tabak-bedrywe het uitgeloop op 10-miljard-rand se bykomende belastingaanslae. Abramjee sê die owerhede moet nou verduidelik hoekom geen grootbase nog arresteer of vervolg is nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, vra die insluiting van veeartsenydienste in die Wetsontwerp op Provinsiale Magte om welstand, openbare gesondheid en biosekerheid ‘n hupstoot te gee. Meyer se beroep volg op die ontstellende ontdekking van 19-duisend stuks vee in haglike toestande op die Al Kuwait-skip in Kaapstad se hawe, onderweg van Brasilië na Irak. Drie diere het reeds gevrek, en agt moes uitgesit word. Meyer glo die konsep-wetsontwerp is ‘n moontlike regstelling wat sal keer so iets gebeur weer in die toekoms.
# Sokker: ‘n Spaanse hof het die voormalige Bralisiaanse ster, Dani Alves tronkstraf van vier-en-‘n-half-jaar opgelê vir die seksuele aanranding van ‘n vrou in ‘n nagklub in Barcelona in 2022. Die 40-jarige Alves, alom beskou as een van die beste agterspelers van alle tye, het ‘n ongelooflike 43 senior titels in sy loopbaan verower. Hy het sy land tussen 2006 en 2022 verteenwoordig in 126 wedstryde, en ook gespeel vir klubs soos Barcelona, Juventus en Paris Saint-Germain. Die hof het Alves ook gelas om die slagoffer meer as drie-miljoen-rand te betaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-679-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-84-sent per vat.
# En laastens, ‘n wees-olifantkalfie met die naam Phabeni is by die olifantrehabilitasie- en ontwikkelingsreservaat by Hoedspruit in Limpopo deur ʼn olifant-ma en haar dogter aangeneem. Phabeni, wat in November gered is toe sy net vier maande oud was, het troos en versorging in die aanneem-trop gevind. Die olifant-ma, Setombe, het Phabeni in die familie verwelkom en die kleintjie selfs laat soog. So is ʼn onverwagse band met die nuwe gesin gevorm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….