Nuus 06:00
BULLETIN 21 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa kondig 29 Mei as stemdag af
# Die DA blameer die ANC vir die hemelhoë werkloosheidsyfer in die land
# En, die Wêreldvoedselprogram onderbreek aflewerings na die noorde van Gaza
# President Cyril Ramaphosa het bevestig dat die nasionale en provinsiale verkiesing op 29 Mei vanjaar sal plaasvind. Die president sê hy het die datum met die Onafhanklike Verkiesingskommissie bespreek. Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa het ook ‘n vergadering met al nege provinsiale premiers en die OVK belê om die stand van gereedheid vir die verkiesing te bespreek:
# Die Konstitusionele Hof het eenparig geweier om oudpresident Jacob Zuma se appèl aan te hoor, oor die ongeldigverklaring van sy private vervolging teen die staatsadvokaat, Billy Downer, en die News24-joernalis, Karyn Maughan. Zuma se aansoek, wat die Appèlhof se verwerping van sy vervolgingstrategie wou betwis, is van die hand gewys. Dié besluit kan ‘n beduidende uitwerking hê op Zuma se voortdurende pogings om Downer as aanklaer in sy korrupsiehofsaak te laat verwyder. Downer dring steeds aan dat die verhoor voortgesit word, in weerwil van Zuma se pogings.
# Die DA sê die ANC se beleide veroorsaak die stygende werkloosheidsyfers. Die nasionale werkloosheidsyfer staan op 32,1-persent en klim volgens die uitgebreide definisie tot meer as 41-persent. Die party sê die ANC ignoreer strukturele beperkings wat keer dat 69,1-persent van jong mense tot die ekonomie bydra, soos in die vierde kwartaal se Arbeidsmag-opname weerspieël word. Die Wes-Kaap onder DA-beheer spog met ʼn laer werkloosheidsyfer van 20,3-persent. Michael Bagraim van die DA stel minder regulasies voor, die instelling van ʼn werksoekers-toelaag en ʼn einde aan rasgebaseerde indiensnemingswette:
# Die waarnemende premier van Noordwes, Nono Maloyi, sê die vernietiging van staatsinfrastruktuur is gelykstaande aan hoogverraad. Hy het gister die Provinsiale Rede in Mahikeng gelewer. Maloyi sê die Departement van Water en Sanitasie werk daaraan om die voorsiening van water in die provinsie te verbeter, maar vandalisme bly ‘n groot probleem:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram het besluit om die lewering van noodsaaklike voedselhulp in die noorde van Gaza te staak totdat toestande verbeter het. Die organisasie sê hulle het gehoop om die afgelope naweek met ‘n weeklange aflewering te begin en elke dag tien vragmotors te stuur om die hongersnood en wanhoop te probeer stuit. Afleweringspanne het egter met geweervuur en honger skares te doen gekry wat op die vragmotors probeer klim het. Die VN-organisasie sê hy hoop om aflewerings so gou moontlik op ‘n verantwoordelike manier te hervat.
# Rugby: Engelse rugby sal nie na Wembley verskuif nie, en opknappingswerk aan Twickenham sal oor drie jaar begin. Die Rugbyvoetbalunie het ‘n voorstel verwerp dat die tuiste van Engelse rugby na die bekende sokkerstadion verskuif word. Volgens berigte sal dit sowat 15,8-miljard-rand kos om Twickenham op te knap, wat te duur is. Die stadion is in 1909 gebou. Indien slegs noodsaaklike werk van 7,1-miljard-rand gedoen word, sal dit steeds ‘n lening verg. Dit sal ook die goedkeuring van die unie se raadslede vereis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-126-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-26-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….