Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Suid-Afrika het teen uitskeityd op die eerste dag van die tweede toets teen Nieu-Seeland in Hamilton 220 vir ses gehad. Die Proteas was op 101 vir vyf in die moeilikheid toe Ruan de Swardt sy plek voor die paaltjies ingeneem het. Hy het eger 55 lopies van 135 balle gemoker en daarmee sy eerste 50-tal aangeteken. Hy en die nuweling Shaun von Berg het ‘n vennootskap van 70 nie uit nie om die sewende paaltjie aangeteken. Rachin Ravindra het vir die Nieu-Seelanders uitgeblink met drie paaltjies.
Nóg krieketnuus: Indië se kolwer, KL Rahul, wie se beskikbaarheid vir die orige drie toetse teen Engeland aan fiksheid onderhewig was, sal nie speel in die derde toets wat Donderdag begin nie. Hy het weens ‘n dybesering ook die tweede toets misgeloop, wat Indië gewen het om die reeks met een elk gelykop te maak. Rahul word deur Devdutt Padikka vervang. Indië se krieketbeheerraad sê Rahul is 90-persent wedstrydfiks en sal na verwagting vir die vierde en vyfde toetse gereed wees.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat die naweek ná drie weke, met twee plaaslike wedstryde op die spyskaart. Die Leeus sal Saterdagmiddag die Bulle op Ellispark in Johannesburg pak, terwyl die Haaie en die Stormers mekaar die stryd sal aansê op Kingspark in Durban. Leinster is tans bo-aan die punteleer van die 16 spanne, gevolg deur Benetton en Glasgow Warriors. Die Bulle, in die vierde posisie, is die beste geplaas van die Suid-Afrikaanse spanne, met die Stormers sewende, die Leeus tiende en die Haaie 16de.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Iga Swiatek, het die Roemeen, Sorana Cirstea, gemaklik met 6-1 en 6-1 verslaan in die tweede ronde van die Katar Ope in Doha. Die Pool wil die eerste een wees wat die titel drie keer inpalm. Naomi Osaka het haar eerste ronde teen Caroline Garcia van Frankryk met 7-5 en 6-4 gewen. Victoria Azarenka van Belarus wat die toernooi al twee keer gewen het, het met Magdalena Frech van Pole afgereken. Swiatek, wat gister haar 90ste week as wêreld-nommer-een afgeskop het, sê sy is trots op haar prestasies:
# En, laastens, nuus oor die Olimpiese Spele: Kenners in Parys waarsku oor die gevaar van eeue-oue balkonne wat tydens vanjaar se Spele in die Franse hoofstad oorlaai kan word – veral tydens die openingseremonie wat plaasvind op bote op die beroemde Sein-rivier. Die Nasionale Eiendomsfederasie het owerhede gewaarsku die balkonne, wat vir slegs ‘n paar mense ontwerp is, sal nie die gewig kan dra as daar te veel mense op is nie. eNCA berig vooraf waarskuwings oor sekerheid en vervoerbeperkings het veroorsaak baie Parysenaars beplan om verlof te neem tydens die Spele en hul huise aan buitelandse besoekers te verhuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….