Nuus 13:00
BULLETIN 30 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA verwelkom die verlenging van die registrasiedatum vir rooivleisuitvoere
# Eskom verminder sy afhanklikheid van dieselaangedrewe kragopwekking met meer as 80-persent
# En sokker: Pirates systap Sekhukhune vir ‘n plek in die MTN8-eindstryd
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die land se jongste kwartaallikse polisiemisdaadstatistiek bied geen rede vir selfvoldaanheid nie. Tussen April en Junie vanjaar is vyf-duisend-427 mense in Suid-Afrika vermoor. Kontakmisdaad het met 2,3- persent afgeneem, terwyl die aantal moorde met 5,9-persent gedaal het. Bennie van Zyl van TLU SA sê egter die regering kan nie ‘n afname van 5,9-persent as ‘n oorwinning voorhou terwyl byna 60 mense steeds daagliks vermoor word en ander ernstige geweldsmisdade toeneem nie:
# Eskom het aangekondig hy het sy afhanklikheid van kragopwekking deur van diesel gebruik te maak, met 82,38-persent verminder het. Hy het op ‘n jaargrondslag 4,89-miljard-rand gespaar, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Daphne Mokwena, sê die strukturele en operasionele verbeterings versterk Suid-Afrika se energiesekerheid deur betroubaarder en doeltreffender kragvoorsiening, die vermindering van bedryfskoste en die skepping van ‘n sterker grondslag vir ekonomiese groei en belegging:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê verskeie aankoop-transaksies in die Metro se 2025/26 jaarverslag met betrekking tot die 2026 Stadsrede moet verder ondersoek word. Volgens die verslag is Roadshow Marketing, ‘n maatskappy wat besit word deur Arthur Mafokate, ‘n kontrak van ongeveer 562-duisend-rand toegeken vir die bevordering van die geleentheid. Mark Surgeon van die VF+ sê Mafokate word tans deur die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek vir sake wat verband hou met die Nasionale Loterykommissie:
# Koning Haakon die Agtste het hulde gebring aan sy “liewe vader”, koning Harald die Vyfde, in sy eerste toespraak as Noorweë se nuwe heerser. Haakon het sy vader beskryf as ‘n warm gesinsman en hervormer en sy toewyding aan insluiting en deernis geprys. Tienduisende rouklaers het by die koninklike paleis in Oslo vergader, waar Harald in staatsie lê na sy dood op die ouderdom van 89. Haakon het belowe om Noorweë op sy eie manier te lei, terwyl hy die demokratiese waardes en tradisies van die monargie voortsit.
# En laastens rugby- en sokkernuus:
# Rugby: Australië het ‘n oorwinning van 27-21 oor Argentinië in die eerste toets van hul reeks van twee wedstryde in Jujuy behaal. Die Wallabies het vroeg met 12-0 voorgeloop en was met rustyd 22-14 voor, voordat die Pumas sterk teruggeveg het. Australië het hul voorsprong met ‘n vierde drie vergroot en toe laat in die wedstryd wal gegooi om die oorwinning te verseker. Dit is die Wallabies se derde agtereenvolgende oorwinning onder die nuwe afrigter Les Kiss, na hul oorwinning oor Japan in twee toetse vroeër die maand. Die tweede toets vind volgende naweek in Mendoza plaas.
# En sokker: Orlando Pirates is deur na die MTN8-einstryd ná hul ‘n 3-0 oorwinning oor Sekhukhune United op die Orlando-stadion. Danksy doele in die eerste helfte deur Thapelo Mokobodi en Ghampani Lungu, asook ‘n laat doel deur Kamogelo Sebelebele, kon die Buccaneers hul 1-0-voordeel uit die eerste been in Polokwane verder vergroot. Die verdedigende kampioene sal nou teen die wenners van die ander halfeindstryd te staan kom. Die uitslag hou Pirates op koers vir nog ‘n trofee vroeg in die seisoen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….