Nuus 06:00
BULLETIN 13 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bestudeer die Konstitusionele Hof se uitspraak oor kaderontplooiing
# Die Britse minister van Buitelandse Sake doen ‘n beroep op Israel om te besin voor hy verder in Rafah optree
# En rugby, Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat ná drie weke met twee plaaslike wedstryde
# Die ANC sê hy neem kennis van die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor kaderontplooiing maar meen dis nie ‘n praktyk wat eksklusief aan die regerende party is nie. Die Hof het die party se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n laerhofuitspraak oor die aangeleentheid van die hand gewys, en die ANC het nou vyf werksdae om sy kaderontplooiingsrekords aan die DA te oorhandig. Dit geld vir al die rekords van die komitee sedert 1 Januarie 2013, toe president Cyril Ramaphosa voorsitter geword het. Die ANC sê hy sal die uitspraak bestudeer om te verseker dit word dienooreenkomstig nagekom.
# Die DA sê die onlangse fase ses-beurtkrag was te wyte aan Eskom se kragstasies wat ‘n kritieke stadium bereik en uitgeskop het. Volgens die party is die skielike daling in opwekkingsvermoë te wyte aan kragstasies wat die einde van hul leeftyd nader. Ten spyte van die bekendstelling van Kusile-eenhede neem die energiebeskikbaarheidsfaktor steeds af, wat daarop dui dat steenkoolkragstasies dramaties swakker vaar. Samantha Graham-Maré van die DA verwerp ANC-aansprake wat hernubare energie vir die krisis blameer:
# Die toerismesektor het ‘n onlangse kennisgewing van Binnelandse Sake gekritiseer, waarin buitelandse toeriste gevra word om teen die einde van die maand te vertrek indien visumhernuwings nie teen die 23ste ontvang is nie. Dit het kommer veroorsaak oor ekonomiese skade en reputasie-risiko’s. Die uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Toerismedienstevereniging, David Frost, het die risiko’s vir toeriste uit visumvrye lande soos die VSA en Brittanje uitgelig. Hy sê hul vertrek kan werkskepping en die bruto binnelandse produk benadeel, aangesien 8,5-miljoen internasionale toeriste Suid-Afrika verlede jaar besoek het. Dit is ‘n toename van 50-persent sedert 2022.
# Die Stad Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, sê ingevolge die integriteitsbestuursraamwerk wat onlangs deur die raad aanvaar is, mag die stadsbestuurder leefstyloudits op amptenare laat doen. Die stad hoop om teen die middel van die jaar minstens ‘n kwart van die 23,3-miljard-rand in te vorder, wat sy kliënte aan die metro skuld. Brink sê hulle sal deeglik kyk na watter amptenare die voorsieningskettingfunksie se nuwe stelsels en beheermaatreëls probeer omseil of ondermyn. Hy sê hulle het nou ‘n nuutgevonde begrip van wat nodig sal wees om die toekoms van Tshwane te verseker.
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê Israel moet ernstig nadink voor verdere optrede in die suidelike stad Rafah in Gaza. Die Hamas-beheerde ministerie van Gesondheid in Gaza sê 67 mense is Sondagaand in Israeliese lugaanvalle in Rafah dood. Die stad bied skuiling aan meer as die helfte van Gaza se bevolking van 2,3-miljoen wat gevegte elders ontvlug het. Cameron sê die mense in Rafah het geen ander heenkome nie:
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat die naweek ná drie weke, met twee plaaslike wedstryde op die spyskaart. Die Leeus sal Saterdagmiddag die Bulle op Ellispark in Johannesburg aanpak, terwyl die Haaie en die Stormers mekaar die stryd sal aansê op Kingspark in Durban. Leinster is tans bo-aan die punteleer van die 16 spanne, gevolg deur Benetton en Glasgow Warriors. Die Bulle, in die vierde posisie, is die beste geplaas van die Suid-Afrikaanse spanne, met die Stormers sewende, die Leeus tiende en die Haaie 16de.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 50-duisend-98-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-19-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….