Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die farmaseutiese reus Aspen se verdienste het met 22-persent gestyg danksy die reusevraag na die gewigsverliesmiddel, Mounjaro.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Verkiesingskommissie sê daar is 42-duisend meer kandidate in die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November as in 2021.
En tweedens skryf die webblad Donald Trump sê hy is bly Harry en Meghan is terug Brittanje toe. Hy sê hy was nooit ‘n groot aanhanger nie, want hulle het hul familie met min respek behandel.
GAUTENG:
# The Star:
Berig die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die ontslag van die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, bevestig nadat hy versuim het om voor ‘n aangewese senior beampte te verskyn. In ‘n verklaring wat gister uitgereik is, sê die polisie Khan word as ontslaan beskou ingevolge die SAPD se Dissiplinêre Regulasies.
# En Sowetan:
Berig die aansoek vir die oorvlug waarna baie Suid-Afrikaners uitgesien het voor die Springbokke se kragmeting teen die All Blacks by die FNB-stadion Saterdag, is onttrek. Airlink het die besluit geneem te midde van ‘n ondersoek deur die Burgerlugvaartowerheid.
En tweedens skryf die koerant Lentedag-vieringe in Gauteng het lelik skeefgeloop toe ‘n jeugdige in Cullinan, oos van Pretoria, met ‘n mes doodgesteek is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het bevind Suid-Afrika se hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal, het nie verkeerd opgetree met die besoek van oudpresident Jacob Zuma nie. Die koerant skryf Sooklal was glad nie betrokke by die privaat vergaderings tussen Zuma en die Guptas nie.
En tweedens skryf die koerant ook oor Airlink se besluit om sy aansoek vir ‘n oorvlug voor die derde toets tussen die Bokke en All Blacks te onttrek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metro probeer tans die busroete na Kariega weer instel en het reeds nege-miljoen-rand aan infrastruktuur bestee. Die koerant skryf die metro moet nou eers goedkeuring van die Departement van Vervoer kry om voort te gaan.
En tweedens skryf die koerant die grootwithaai wat by Jeffreysbaai uitgespoel het, is moontlik deur ‘n moordwalvis of Orka aangeval.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ma van die 34-jarige Terricia Govender wat in die Nepal-oorstroming vermis word, is self op pad Nepal toe. Die koerant berig Linda Govender is op ‘n sending om haar dogter te vind.
En tweedens word berig die IVP se raadslid en kandidaat in Wyk 17 van die uMlalazi Plaaslike Munisipaliteit, Khetelo Mdluli, wat verlede Donderdag by sy huis in Gingindlovu geskiet is, is in die Ngwelezane-hospitaal oorlede.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig verskeie senior bestuurders en uitvoerende direkteure uit die openbare sektor ding volgens berigte mee vir die toppos by Meatco. Die uitvoerende direkteur, Michael Humavindu, is ook ‘n kandidaat.
En tweedens skryf die koerant die Otjiwarongo-staatshospitaal het net agt mediese dokters. Die hospitaal kort tans 32 dokters om behoorlik te funksioneer.