Nuus 11:00
BULLETIN 12 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is besig om meer geskoolde werkers te lok
# Mogoeng Mogoeng sê doodsdreigemente sal hom nie van stryk bring om president te word nie
# En Amerikaanse voetbal, Kansas City Chiefs wen die Super Bowl vir die tweede agtereenvolgende jaar
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika word al hoe meer ‘n aantreklike bestemming vir nywerhede, en dit is noodsaaklik om meer geskoolde werkers te lok. Die departement van Binnelandse Sake het verlede week die konsep-wysigings van die Immigrasie-regulasies gepubliseer wat met afstandwerk en kritieke vaardigheidsvisas te doen het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief om suksesvol te wees in die globale ekonomie wat voortdurend verander, het die land aansienlik meer mense met die regte vaardighede nodig. Hy voeg by die regering het hom daartoe verbind om vaardighede te lok wat aan die eise van ‘n moderne, inklusiewe en groeiende ekonomie voldoen.
# Die afgetrede hoofregter Mogoeng Mogoeng sê nie eens doodsdreigemente sal in sy pad staan om eendag president van Suid-Afrika te word nie. Hy het in 2022 die eerste keer openlik oor sy aspirasies gepraat om president te word en gesê hy glo hy is daartoe geroep. Mogoeng het aan Newzroom Afrika gesê daar was die afgelope twee jaar verskeie pogings om hom te elimineer:
# Drie mense is in die vroeë oggendure dood in ‘n brand in Fisantekraal, noordoos van Durbanville. Die woordvoerder van die stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste, Jermain Carelse, sê ‘n noodoproep is net voor eenuur vanoggend ontvang van ‘n huis wat in Saartjie Baartman-straat aan die brand was. Hy sê ‘n man wat 30-persent brandwonde opgedoen het, is behandel en na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer:
# Die Rwanda-wetsontwerp is fundamenteel onversoenbaar met Brittanje se menseregte-verpligtinge en sal die internasionale reg oortree. Dit is volgens ‘n verdoemende parlementêre verslag deur die Verenigde Koninkryk se Gesamentlike Komitee oor Menseregte. Die doel van die wetsontwerp is om verlede jaar se uitspraak in dié land se hoogste hof teen te staan, wat bevind het Rwanda is nie ‘n veilige land waarheen die VK assielsoekers sonder keuse kan verskuif nie. Die verslag sê die wetsontwerp se feitlik algehele uitsluiting van regsoorweging ondermyn die grondwetlike rol van die land se howe om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou.
# Amerikaanse voetbal: Die Kansas City Chiefs het die San Francisco 49ers in Las Vegas in bykomende tyd 25-22 geklop om die Super Bowl ‘n tweede jaar agtereenvolgens te wen, en die derde keer in vyf jaar. Patrick Mahomes se aangee na Mecole Hardman het die sege vir die Chiefs verseker om die eerste span in 20 jaar te word wat die trofee twee jaar na mekaar wen. Mahomes – die speler van die seisoen – sê dit was sy beste spel ooit vir ‘n sege in die Super Bowl:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-343-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….