Nuus 12:00
BULLETIN 12 Februarie 12 uur
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng is bekommerd omdat die LUR vir finansies nog ‘n e-tol-sperdatum mis
# Mogoeng Mogoeng sê doodsdreigemente sal hom nie daarvan weerhou om president te wees nie
# En, Sokker: Hugo Broos wil graag aanbly as die Bafana Bafana-afrigter
# Die DA in Gauteng sê dit is kommerwekkend dat die LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, weer ‘n sperdatum misgeloop het om aan te kondig presies hoe die provinsie sy deel van die e-tolskuld gaan betaal. Owerhede het oor die afgelope paar jaar al die sperdatums misgeloop vir die skrapping van die e-tol-stelsel. Gauteng se gedeelte van die skuld is tans 12,9-miljard-rand. Die DA-lid, Fred Nel, sê dit is onaanvaarbaar vir inwoners om steeds te moet betaal vir die ongewenste stelsel:
# Die afgetrede hoofregter Mogoeng Mogoeng sê nie eens doodsdreigemente sal in sy pad staan om eendag president van Suid-Afrika te word nie. Hy het in 2022 die eerste keer openlik oor sy aspirasies gepraat om president te word en gesê hy glo hy is daartoe geroep. Mogoeng het aan Newzroom Afrika gesê daar was die afgelope twee jaar verskeie pogings om hom te elimineer:
# Die Rwanda-wetsontwerp is fundamenteel onversoenbaar met Brittanje se menseregte-verpligtinge en sal die internasionale reg oortree. Dit is volgens ‘n verdoemende parlementêre verslag deur die Verenigde Koninkryk se Gesamentlike Komitee oor Menseregte. Die doel van die wetsontwerp is om verlede jaar se uitspraak in dié land se hoogste hof teen te staan, wat bevind het Rwanda is nie ‘n veilige land waarheen die VK assielsoekers sonder keuse kan verskuif nie. Die verslag sê die wetsontwerp se feitlik algehele uitsluiting van regsoorweging ondermyn die grondwetlike rol van die land se howe om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou.
# Sokker: Hugo Broos sê hy het hom verbind om as Bafana Bafana se afrigter aan te bly. Daar was bespiegeling dat hy vakante nasionale afrigtigtersposte in Tunisië en Algerië oorweeg. Die 71-jarige het Suid-Afrika tot ‘n derde plek in die Afrika-bekertoernooi gelei wat deur die gasheerspan Ivoorkus gewen is. Broos, wie se kontrak in Junie 2026 verstryk, sê die enigste manier waarop hy sal vertrek, is as die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging hom afdank:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-316-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-58-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Prince William se Earthshot-liefdadigheidsorganisasie sal in November sy toekenningseremonie in Kaapstad aanbied, ter viering van vyftien globale omgewings-oplossings. Die Earthshot-prys, ter waarde van 24-miljoen-rand, het ten doel om koolstof-uitstralings teen 2030 met meer as 40-persent te verminder en 30-persent van die natuur te beskerm. Geen datums is nog aangekondig nie, en dit is onduidelik of prins William of Kate Middleton dit gaan bywoon. Die uitvoerende hoof van die Earthshot-prys, Hannah Jones, beklemtoon die belangrikheid daarvan om omgewingsuitdagings in die Earthshot-dekade aan te spreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….