Nuus 08:00
BULLETIN 12 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die hoër fases beurtkrag wys die ANC is besig om te misluk
# Die Nasionale Unie vir Mynwerkers sê die regering maak te veel staat op die Energie-aksieplan
# En krieket, Australië verslaan Indië en verower die Onder-19 Wêreldbeker
# Die Congress of the People sê die hoë fases van beurtkrag is nog ‘n bevestiging president Cyril Ramaphosa se regering misluk om Eskom se sake behoorlik te bestuur. Fase vyf-beurtkrag is vir ‘n onbepaalde tyd ingestel. COPE se waarnemende hoofsekretaris, Erick Mohlapamaswi, sê beurtkrag het onder die ANC se bewind ekonomiese groei en ontwikkeling vir meer as 14 jaar ondermyn en stel die lewens en inkomste van burgers in gevaar wat nie alternatiewe kragbronne kan bekostig nie:
# Die Nasionale Unie vir Mynwerkers sê die regering se oplossings vir die energiekrisis maak te veel staat op die Eneregie-aksieplan en die vakbond meen dit is onvoldoende om beurtkrag te beëindig. President Cyril Ramaphosa het die plan in Julie 2022 van stapel gestuur as ‘n padkaart om beurtkrag tot ‘n einde te bring en die langtermyn volhoubaarheid van kragverskaffing in Suid-Afrika te bevorder. NUM sê ‘n plan wat in die privaatsektor geanker is, sal nie die energiekrisis oplos nie, want die sektor is net daarop uit om soveel wins as moontlik te maak eerder as om probleme op te los.
# Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het bewerings weerlê dat die Nasi Ispani-jeugwerwingsprogram ‘n verkiesingsfoefie is. Die program is ‘n inisiatief om werkloosheid te bekamp en toegang tot werksgeleenthede in Gauteng te bevorder. Die provinsiale regering wil 32-duisend mense in diens neem om as onderwysassistente, algemene skoolassistente en vroeë-kinderontwikkelingsassistente in skole te werk. Lesufi sê die doel is om werkloosheid onder die jeug te verminder:
# Die Withuis sê president Joe Biden was telefonies met Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu in verbinding oor planne vir ‘n militêre operasie in Rafah, Gaza. Die president waarsku ‘n militêre operasie in Rafah mag nie uitgevoer word sonder ‘n geloofwaardige en uitvoerbare plan om die veiligheid van sowat 1,3-miljoen Palestyne wat daar skuil, te verseker nie. Netanyahu het aangevoer hy is vas van plan om met militêre optrede voort te gaan. Die Withuis sê president Biden het ook Amerika se gedeelde doelwit herbevestig om Hamas te verslaan om die langtermyn-veiligheid van Israel te verseker.
# Krieket: Australië het Indië in Benoni met 79 lopies geklop om die Onder-19-Mans-wêreldbeker vir die vierde keer in te palm. Harjas Singh het met 55 lopies die beste met die kolf gevaar en Australië het 253 vir sewe van hulle 50 boulbeurte aangeteken – die grootste telling ooit in ‘n Onder-19-Wêreldbeker eindstryd. In antwoord hierop het Mahli Beardman en Raf Macmillan drie paaltjies elk geneem, met Indië wat vir 174 uitgehaal is. Suid-Afrika se snelbouler, Kwena Maphaka, is as speler van die toernooi aangewys nadat hy 21 paaltjies laat kantel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-136-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….