Nuus 07:00
BULLETIN 14 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die politieke ontleder Sandile Swana bevraagteken Cyril Ramaphosa se leierskap en ekonomiese rekord
# Die Internasionale Energie-agentskap gaan meer noodoliereserwes vrystel terwyl wêreldwye olievoorraad begin verbeter
# En rugby, Frankryk klop die Springbokke in ‘n dramatiese kragmeting in Parys
# Die politieke ontleder Sandile Swana kritiseer president Cyril Ramaphosa se leierskap, en sê hy moes nooit president geword het nie. Swana het op die King David Studio Podcast die regering se ekonomiese beplanning en hantering van die elektrisiteitskrisis bevraagteken. Hy sê werkloosheid het onder Ramaphosa se leierskap tot 13,1-miljoen mense geklim en voorspel dit kan tot 15-miljoen styg. Swana kritiseer ook die reaksie op Eskom se probleme en sê elektrisiteitsproduksie bly laer as die 2019-vlakke:
AfriForum sê mense wat met gewelddadige aanvalle en ander noodgevalle gekonfronteer word, mag dalk sonder hulp gelaat word wanneer hulle dit die nodigste het, en dit weens mislukkings by polisie-noodoproepsentrums. Volgens die organisasie is byna 1,8-miljoen oproepe na die 10111-nommer in die 2025/2026-boekjaar nie beantwoord nie, wat beteken een uit elke vyf oproepe het nie aandag gekry nie. Jacques Broodryk van AfriForum sê gemeenskappe moet al hoe meer op hul eie veiligheidsmaatreëls staatmaak:
# Women and Men Against Child Abuse daag die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die hof oor befondsing wat aan sy Boksburg Kidz Clinic beloof is. Die kliniek bied gratis berading, mediese evaluerings en ander dienste vir kinders wat fisiese en seksuele mishandel is. Miranda Jordan van die organisasie sê die departement het meer as ‘n miljoen-rand aan die organisasie toegesê, maar het nog nie die geld uitbetaal of die befondsingsooreenkoms gefinaliseer nie. Jordan waarsku die kliniek kan sluit, wat honderde kwesbare kinders sonder ondersteuning sal laat.
# Die Internasionale Energie-agentskap sê hy sal die vrystelling bespoedig van die oorblywende noodolievoorraad wat vroeër vanjaar belowe is, en teen einde Februarie ‘n verdere 71-miljoen vate by die mark voeg. Die mark toon tekens van herbalansering, met wêreldwye olievoorrade wat die vraag oortref vir die eerste keer sedert die uitbreek van die VSA-Iran-oorlog. Olievoorrade het in Oktober die vraag met byna twee-miljoen vate per dag oortref. Die IEA bly bekommerd oor voortgesette aanvalle op olietenkskepe in die Midde-Ooste.
# Rugby: Frankryk het die Springbokke met 21-19 geklop in ‘n opwindende Nasieskampioenskap-toets in Parys, en kaptein Antoine Dupont is aangewys as speler van die wedstryd. Frankryk het in die eerste helfte drie drieë gedruk en teen rustyd met 21-7 voorgeloop. Die Bokke het terugbaklei met drieë deur Jan-Hendrik Wessels, Cobus Reinach en Malcolm Marx. Die plaasvervanger, Manie Libbok, het egter ʼn laat doelskop verbrou wat die telling gelykop kon maak. Dit was Frankryk se eerste tuis-oorwinning oor die Springbokke sedert 2005 en slegs hul tweede sege in elf toetse oor die Wêreldkampioene.
# En ten slotte, met Wêrelddiabetesdag wat vandag herdenk word, het die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, Suid-Afrikaners versoek om vroegtydig vir diabetes getoets te word en behandeling te kry. Meer as ‘n 500-miljoen mense leef wêreldwyd met diabetes, en byna die helfte van hulle weet dit nie. Na raming is byna twee derdes van die diabetes-gevalle in Suid-Afrika, nie gediagnoseer nie. Die woordvoerder van die departement, Foster Mohale, sê vroeë opsporing en behoorlike sorg kan ernstige komplikasies voorkom en lewensgehalte verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….