Nuus 08:00
BULLETIN 14 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU beskuldig die regering dat hy nie werkloosheid aanspreek nie
# SandileSwana bevraagteken die ANC se toekoms onder president Ramaphosa en die regering van nasionale eenheid
# En, die Europese Unie sê ’n skietstilstand in Oekraïne is belangriker as breër veiligheidsonderhandelinge
# COSATU beskuldig die regering dat hy ‘n geleentheid verspeel het om sterker op te tree teen werkloosheid, armoede en swak ekonomiese groei. Die vakverbond se woordvoerder, Matthew Parks, het in sy voorlegging in die Parlement oor begrotingsveranderinge gesê werkloosheid het vanjaar met 2,4-persent toegeneem. COSATU verwelkom bykomende befondsing vir infrastruktuur en gesondheid, maar sê die regering het versuim om meer geld beskikbaar te stel vir openbare indiensnemingsprogramme of ekstra verligting vir ontvangers van maatskaplike toelaes:
# Die politieke ontleder Sandile Swana bevraagteken die ANC se langtermyn-volhoubaarheid onder president Cyril Ramaphosa, asook die toekoms van die regering van nasionale eenheid. Swana het op die King David Studio Podcast gesê senior ANC-figure soos voorsitter Gwede Mantashe en sekretaris-generaal Fikile Mbalula is besig om politieke tersaaklikheid te verloor. Hy waarsku ook politieke mededingers in Johannesburg, insluitend Helen Zille van die DA, om nie toe te laat dat persoonlike ambisie meer weeg as die stad se belange nie:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party verwelkom die ANC se besluit om die DA dalk uit te sluit van koalisie-vennootskappe in onbesliste munisipaliteite. Meer as 130 rade het geen volstrekte meerderheid na die afgelope plaaslikeregeringsverkiesing nie. Die SAKP se waarnemende nasionale woordvoerder, Mhlekwa Nxumalo, sê die party is gekant teen samewerking met die DA as gevolg van ideologiese en klasse-verskille. Intussen vra die Raad van die Linkses, wat die SAKP, EFF, MK-party en Africa Mayibuye-beweging insluit, dat linkse partye verenig terwyl koalisie-onderhandelinge in die land voortgaan.
# Ouers in die Oos-Kaap word gewaarsku om voorsorgmaatreëls te tref en seuns wat somer-inisiasieskole bywoon te beskerm teen warmer en droër weerstoestande wat weens El Niño voorspel word. Dit volg nadat 48 sterftes in die 2025-somerseisoen aangemeld is. Die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Pheello Oliphant, waarsku teen die gebruik van swart plastiek om inisiasieskuilings te bou omdat dit hitte behou. Hy sê ouers moet seker maak die seuns drink genoeg water en bly gesond.
# Die hoof van Buitelandse Beleid by die Europese Unie, Kaja Kallas, het gewaarsku Rusland probeer om die aandag af te lei van sy aggressie teen Oekraïne deur die kwessie van Europese veiligheid te opper. Moskou dring aan Europa se breër veiligheidsargitektuur moet heronderhandel word as deel van enige vredesgesprekke. Ná onderhandelings in Abu Dhabi vandeesweek, het Jared Kushner van die VSA gesê Rusland en Oekraïne het ooreengekom om die volgende ronde vredesonderhandelinge uit te brei sodat die Europeërs ook kan deelneem. Kallas sê Europa moet nie in Russiese “lokvalle” beland nie:
# En ten slotte krieket: Die eerste van twee toetse tussen Suid-Afrika en Bangladesj begin môre op die Wanderers in Johannesburg. Die reeks is deel van die Wêreldtoetskampioenskap. Die Proteas is die verdedigende kampioene en tans tweede op die punteleer agter Nieu-Seeland. Hulle word gevolg deur Australië en Indië, terwyl Bangladesj in die vyfde plek is. Die Wanderers se baanopsigter, Brendon Frost, beoog ‘n blad wat die snelboulers sal begunstig maar steeds ‘n vyfdaagse stryd sal toelaat. Die laaste toets begin die 23ste November op SuperSport Park in Centurion, Gauteng.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….