Nuus 18:00
BULLETIN 12 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK dui die finale stappe aan om die 2026 plaaslikeregeringsverkiesing af te handel
# Meer as 20-persent van die kragonderbrekings in Johannesburg word deur diefstal en vandalisme veroorsaak
# En, skole in Italië, Brittanje en Ierland ontruim na vals bomdreigemente
# Die Verkiesingskommissie sê verskeie prosesse moet nog afgehandel word voordat die nuutverkose munisipale raadslede amptelik hul amp kan beklee. Dit sluit in om politieke partye toe te laat om gapings in hul kandidaatslyste te vul en om sake op te los waar kandidate vir meer as een setel benoem is. Sodra die finale lys van raadslede gepubliseer is, moet munisipale bestuurders die eerste raadsvergaderings binne 14 dae reël. Die oorblywende 994 distriksraadsetels moet ook deur verkiesings deur plaaslike raadslede gevul word.
# City Power se waarnemende uitvoerende hoof, Charles Tlouane, sê hulle stel maatreëls in om elektrisiteitsvoorsiening te bestendig, maar waarsku misdadigers teiken sy infrastruktuur en ondermyn hierdie pogings. Meer as 20-persent kragonderbrekings in Johannesburg hou verband met diefstal en vandalisme. Tlouane het kommer uitgespreek oor georganiseerde sindikate wat koperkabels steel en met alternatiewe geleiers vervang, insluitend gebondelde lugkabels:
# Die DA in die Wes-Kaap sê betroubare infrastruktuur en ‘n omgewing waarin ondernemings kan belê, groei en werk skep is nodig om die werkloosheidskrisis te oorkom. Die derde kwartaal se Arbeidsmag-opname plaas nasionale werkloosheid op 33,7-persent. Noko Masipa van die DA sê die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat jaarlikse positiewe werkskeppingsgroei toon. Hy sê 69-duisend werksgeleenthede is bygevoeg, wat die provinsiale syfer op 2,883-miljoen te staan bring:
# Meer as 300 skole in Italië is gister ontruim nadat bomdreigemente per e-pos ontvang is. Die boodskappe het ook gedreig oor ‘n ploftoestel in die eerste minister, Giorgia Meloni se motor. Italiaanse ministers vermoed dit is ‘n doelbewuste veldtog om vrees aan te wakker, ná soortgelyke vals dreigemente by skole in Brittanje en Ierland, sowel as mediamaatskappye in Bulgarye. Meloni sê ondersoeke het geen werklike gevaar opgelewer nie, maar indringende ondersoeke duur voort. Die minister van Verdediging, Guido Crosetto, gaan aan die parlement oor die voorval en breër veiligheidskwessies verslag doen.
# Sokker: Manchester United het afskeid geneem van sy hoofafrigter Michael Carrick wat tien maande aan die stuur was. Die voormalige middelveldspeler het in Januarie na Old Trafford teruggekeer en die klub verlede seisoen na die derde plek in die Premierliga gelei, met 12 oorwinnings uit sy 17 wedstryde. ‘n Teleurstellende begin van die huidige seisoen het hom egter sy pos gekos. Carrick se vertrek beteken United het die afgelope vyf jaar agt verskillende afrigters gehad, insluitend tussentydse aanstellings. Die klub sê hy beoog om so gou moontlik ‘n permanente opvolger aan te stel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-443-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-885-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….