Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Woolworths-aandele het die swakste dag sedert 2020 beleef omdat groei in die voedselafdeling stagneer. Verkope by Country Road daal ook skerp met die voormalige sustermaatskappy, David Jones, wat onder administrasie geplaas is. Woolworths se uitvoerende hoof, Sam Ngumeni, sê die groep moet vasstel waar sy mode-aanbod tekortskiet en die gehalte van sy produkte verbeter.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor KwaZulu-Natal waar ‘n magstryd in die 35 onbesliste rade woed. Die koerant skryf die MK-party onderhandel net met linksgesinde partye, terwyl die DA enige samewerking met MK of die EFF uitgesluit het. ActionSA voer tans gesprekke met MK en die EFF, maar daar is nog geen besluite onderteken nie.
En tweedens skryf die webblad die bekende en bekroonde Amerikaanse akteur, Stacy Keach, is op 85-jarige ouderdom oorlede.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Pietermaritzburgse Hooggeregshof het Bongani Archibold Jele se tronkstraf van 15 jaar vir bedrog, wat meer as 709-duisend-rand beloop, tersyde gestel. Die hof het bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat hy deelgeneem het aan die bedrogskema nie. Jele is in November 2022 deur die Ixopo-streekhof skuldig bevind.
# Sowetan:
Berig dit het by die Madlanga-kommissie aan die lig gekom die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, wou ‘n aftreehuis ter waarde van ses-miljoen-rand van die tenderpreneur Cat Matlala gehad het voordat hy sou inwillig om hom te ontmoet.
# En The Citizen:
Skryf navorsing het aan die lig gebring dat oproepe na die polisie se 10111-noodnommer nagenoeg vyf-duisend keer per dag geïgnoreer word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n 53-jarige man van Stellenberg is in hegtenis geneem nadat hy sy 88-jarige pa na bewering gemartel en vermoor het en die liggaam in ‘n vullisdrom geplaas het. Die voorval het in hul wooneenheid in Stellenberg Gardens plaasgevind. Die polisie van Durbanville ondersoek ‘n moordsaak.
En tweedens skryf die koerant ook oor die Madlanga-kommissie waar dit uit die getuienis van Matlala aan die lig gekom het dat hy na bewering 500-duisend-rand aan Bheki Cele, betaal het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n klankopname van ‘n vergadering wat uitgelek het dui op die diepe verdeeldheid in die ANC tydens die plaaslikeregeringsverkiesing.
En tweedens skryf die koerant ouers is bekommerd oor die veiligheid van hul kinders buite skoolhekke.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Tatjana Smith se besluit om vir Nederland deel te neem, het skokgolwe in Pietermaritzburg veroorsaak.
En tweedens word berig die atleet Caster Semenya sê sy is verraai deur nasionale en internasionale organisasies, veral Atletiek Suid-Afrika, wat volgens haar versuim het om haar tydens haar loopbaan te beskerm.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig bykans 800 werknemers van Meatco se salarisse kan weens die uitbreking van bek-en-klouseer tot met 50-persent gesny word. Dit moet dien as noodmaatreëls vir kostebesnoeiings.
En tweedens skryf die koerant die minister van Landbou, Visserye en Grondhervorming, Inge Zaamwani-Kamwi, sê dis onaanvaarbaar dat Namibië wat reeds ’n land met waterskaarste is, meer as 50-persent van sy water tydens die voorsieningsproses laat verlore gaan.