Nuus 06:00
BULLETIN 12 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF en die MK-party vergader om koalisie-reëlings te bespreek
# Die Vryemarkstigting sê die regering maak dit moeiliker vir mense om werk te vind
# En swem: Die DA blameer minister Gayton McKenzie vir Tatjana Smith se skuif
# Die EFF sê dit is tyd vir linkse organisasies om saam te staan en die land van Apartheid 2.0 te red. Die party het gister met die MK-party vergader oor koalisievorming. Daar is 138 onbesliste munisipale rade. Die EFF sê hulle is daartoe verbind om die mense van Suid-Afrika eerste te stel deur praktiese dienslewering. Die party sê dit behels die versekering van gereelde vullisverwydering, die indiensneming van munisipale werkers, en die vrystelling van kwesbare huishoudings van die betaling vir basiese dienste soos water en elektrisiteit.
# Die tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala sê hy vertrou nie meer die beweerde politieke bemiddelaar Brown Mogotsi nie. Hy beweer Mogotsi het die naam van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gebruik om geld van hom te vra. Tydens sy getuienis voor die Madlanga-kommissie het Matlala gesê hy het aanvanklik vir Mogotsi vertrou wat aangebied het om te help met die ondersoek na ‘n polisieklopjag op sy huis in Desember 2024. Hy beweer hy het 20-duisend-rand aan Mogotsi betaal vir ondersoekers, en meer as 150-duisend-rand vir die ANC se vieringe op 8 Januarie:
# Die Vryemarkstigting sê in plaas daarvan om dit vir sakeondernemings makliker te maak om werkloses aan te stel en vir werklose mense om werk te kry, stel die regering voortdurend wetgewing in wat die koste en ingewikkeldheid van indiensneming verhoog. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het in die derde kwartaal van hierdie jaar tot 33,7-persent gestyg. Die stigting sê hulle voer reeds lank aan Suid-Afrika benodig fundamentele arbeidsmarkhervorming. Hy sê die voorgestelde Werksoekersvrystellingsertifikaat sal werklose burgers die vryheid gee om vir werksgeleenthede te onderhandel sonder om deur beperkende arbeidswetgewing teruggehou te word.
# Die ANC in Johannesburg sê hy aanvaar die uitslag van vanjaar se plaaslikeregeringsverkiesing en respekteer die keuses van die kiesers. Die party het egter teenstrydighede in sommige gebiede geïdentifiseer en het formele besware deur die verkiesingsproses ingedien. Mantombi Nkosi van die ANC het ook die voortdurende uitdagings waarmee inwoners moet saamleef, insluitend water- en elektrisiteitsvoorsiening, werkloosheid, behuising en swak munisipale dienste erken:
# Iran se ministerie van Verdediging het die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, se jongste beoordeling van sy militêre vermoëns verwerp en sy voorstelling as ‘n versinsel bestempel. Hegseth beweer die Amerikaanse weermag het tydens 40 dae van gevegte 13-duisend teikens aangeval en meer as 80-persent van Teheran se kernbasis vernietig. Kenners van die Verenigde Nasies glo Iran beskik steeds oor uraan wat ongeveer 60-persent verryk is, slegs ‘n klein stappie weg van die 90-persent-verrykingsvlakke wat vir kragtige militêre plofkoppe vereis word. Iran se ministerie van Verdediging sê sy gewapende magte het steeds ‘n wapenvoorraad, danksy strategiese produksie en opgegradeerde tegnologieë.
# Swem: Die DA sê voortdurende bestuursmislukkings onder die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het bygedra tot die besluit van die Olimpiese swemkampioen Tatjana Smith om Nederland te verteenwoordig. Die party beweer Swem Suid-Afrika word geteister deur wanbestuur en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid, ten spyte van herhaaldelike oproepe om ingryping. Leah Potgieter van die DA doen ‘n beroep op McKenzie om verantwoording te doen vir sy toesig oor nasionale sportfederasies en om die probleme waarmee die sektor te kampe het, aan te spreek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-33-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-995-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-987-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 95-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….